Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
‘Geen dier is feitlik veilig nie’
’n Vertoonlokaal by die jaarlikse Safari Club International se pasafgelope jagindaba wat in Reno, Nevada gehou is. Geblikte leeujagte is onder meer hier verkoop.

’n Video wat verlede week by die jaarlikse indaba van die Safari Club International (SCI) in Reno, Nevada, gemaak is, wys hoe Suid-Afrikaanse agente “geblikte leeujagtogte” in Suid-Afrika aan voornemende trofeejagters bemark.

Dít ondanks die feit dat SCI twee jaar gelede onderneem het om geen geblikte leeujagte na Suid-Afrika te ondersteun nie en die Amerikaanse Fish and Wildlife Service (USFWS) etlike jaar gelede bepaal het geen trofee van geblikte leeus mag na dié land ingevoer word nie. Boonop is dit onwettig om halfmak-leeus in Suid-Afrika te jag.

Só het Audrey Delsink, direkteur van die Humane Society International Africa (HSI Africa), Donderdag gesê. “Ons is verpletter om te sien hoe ons wild, waarvan die meeste spesies bedreig is, by SCI se jagindaba verkwansel is.”

Die video is gemaak deur lede van die HSI in Amerika en is Woensdagaand wêreldwyd versprei.

Benewens “geblikte leeujagte” het agente ook jagsafari’s vir verskeie bedreigde spesies verkoop. Spesies wat te koop aangebied is, is olifante, sebras, hiënas, renosters, seekoeie, bere, jakkalse en wildekatte. Selfs bakoorvossies van Suid-Afrika is as trofee aangebied.

Die HSI het in ’n verklaring gesê bewaringsgroepe veg vir die oorlewing van verskeie bedreigde spesies in Afrika en die res van die wêreld, maar by die SCI se jagindaba is ’n bedreigde swart renoster, ysbere en olifante opgeveil om gejag te word.

Een van die safari’s wat te koop aangebied is, was ’n “geblikte leeujag” teen sowat R118 700.

Die SCI se jagindaba is een van die grootstes ter wêreld. Meer as tienduisend trofeejagters het vanjaar se indaba bygewoon. Daar was vanjaar 870 uitstallers wat 34 lande verteenwoordig het.

Een van die safari’s wat te koop aangebied is, was ’n “geblikte leeujag” teen sowat R118 700.

’n Suid-Afrikaanse professionele jagter het ook die jag van ’n kameelperd teen sowat R17 800 aangebied. Kameelperde word onder die Internasionale Konvensie vir bedreigde fauna en flora (Cites) beskerm. Die beskerming van kameelperde het verlede jaar in September in werking gekom toe bewaringsorganisasies agtergekom het, dié diere se getalle in Afrika het drasties geval. Kameelperde se getalle het die afgelope 30 jaar met meer as 40% geval. Daar is nou sowat 69 000 kameelperde in die natuur oor.

’n Jagtog om ’n ysbeer – ook ’n bedreigde spesie – te skiet, is vir sowat R890 000 verkoop.

’n Jagtog om ’n ysbeer – ook ’n bedreigde spesie – te skiet, is vir sowat R890 000 verkoop. Om ’n krities bedreigde swartrenoster in Namibië te jag, sal ’n trofeejagter R5,2 miljoen uit die sak jaag.

Luidens die verklaring het vier Suid-Afrikaanse afslaers by die indaba gespog dat een van hul maatskappye reeds 10 geblikte leeujagtogte verkoop het.

’n Jagtog saam met Donald Trump Jnr. op ’n luukse jag in Alaska waar verskeie diere gejag sal word, is vir sowat R5 miljoen verkoop.

Jeff Flocken, president van HSI, het gesê dié organisasie se “ondersoek” het skokgolwe deur die bewaringsbedryf gestuur.

Flocken het gesê hierdie ondersoek het gewys geen dier is veilig nie. Almal kan gejag word. “Dié industrie het weereens sy ware kleure gewys.

“Dit is ’n industrie wat aangedryf word deur mense wat dit geniet om dood te maak. Dit is hoegenaamd nie ’n organisasie wat bewaring op die hart dra nie,” het hy gesê.

SCI het in ’n verklaring op sy webblad gesê die pasafgelope indaba was een van die suksesvolste in sy bestaan van 49 jaar. Die SCI se raad het The Beach Boys vir hul optrede by die geleentheid bedank, asook vir Donald Trump Jnr. wat as hoofspreker opgetree het.

Suid-Afrika is naas, Kanada, die grootste uitvoerder van jagtrofee per jaar.

Meer oor:  Elise Tempelhoff  |  Jagtogte  |  Geblikte Jagtogte  |  Diere  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.