Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Geen land kan klimaat alleen aanpak, sê Biden

Suid-Afrika sal met ander lande saamwerk om brûe te bou waarmee oplossings gevind kan word om die mensdom se toekoms te verseker.

Dit was Donderdag die boodskap van pres. Cyril Ramaphosa op pres. Joe Biden van Amerika se leiersberaad oor klimaat.

Ramaphosa is een van 40 wêreldleiers wat aan dié tweedaagse aanlyn beraad deelneem.

Biden het in sy verwelkomingstoespraak gesê geen land kan die klimaatkrisis op sy eie oplos nie. Alle lande moet hul pogings verskerp om ’n veilige, voorspoedige en volhoubare toekoms te verseker.

Amerika se pres. Joe Biden (links) en John Kerry, sy spesiale gesant oor klimaatsverandering, Donderdagmiddag op die aanlyn klimaatsberaad wat Biden met sowat 40 wêreldleiers hou. Foto: AP

Die Amerikaanse president het onderneem die VSA sal die vlak van sy kweekhuisgas-voetspoor teen 2030 met minstens 50% verlaag.

“Ons is in ’n deurslaggewende dekade,” het Biden gesê.

Ramaphosa het op sy beurt in ’n kort toespraak gesê klimaatsverandering is die ernstigste kwessie waardeur die wêreld in die gesig gestaar word.

“Dit is ’n wêreldwye verskynsel waarin veral ontwikkelende lande se ekonomieë kwesbaar is,” het Ramaphosa gesê.

“As ons nie iets aan die situasie doen nie, het klimaatsverandering die potensiaal om die voordele wat ons met ontwikkeling bereik het, om te keer en miljoene mense verder in armoede te dompel.”

Ramaphosa sê arm lande het histories die minste bygedra tot die vrystelling van kweekhuisgasse, maar byt nou die spit af in die vorm van droogtes, uiterste storms en verhoogde seevlakke.

Ontwikkelde lande het dus die verantwoordelikheid om ontwikkelende ekonomieë te help om die invloede van klimaatsverandering te temper en daarby aan te pas.

Suid-Afrika is ten volle daartoe verbind om sy deel tot die stryd teen klimaatsverandering by te dra.

Teen 2030 wil die land sy kweekhuisgas-uitlating met 28% – oftewel 174 miljoen metrieke ton – verklein.

Suid-Afrika se kweekhuisgasse sal in 2025 ’n hoogtepunt bereik en eers van 2035 begin afneem, het Ramaphosa aan die wêreldleiers gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa praat Donderdagmiddag aanlyn met ander wêreldleiers wat deel is van pres. Joe Biden, Amerikaanse president, se klimaatsberaad. Foto: Presidensie

“Wat betref ons energiebronne, beplan ons om teen 2030 hernubare energie van 17 gigawatt op te wek.

“Die beweging na ’n laekoolstof-uitset en ’n klimaatsveerkragtige gemeenskap kan nie oornag gebeur nie. Ons sal almal moet saamwerk om só ’n gemeenskap te skep.”

Die president het egter geen melding gemaak van Suid-Afrika se afhanklikheid van steenkool om sy krag op te wek nie.

Ramaphosa het wel baie klem daarop gelê dat Afrika en die res van die ontwikkelende wêreld groot hulp van die ontwikkelde wêreld nodig het in die vorm van geld, tegnologie en die verbetering van kapasiteit.

Dié ontwikkelingshulp moet afsonderlik geskied en nie deel vorm van die gebruiklike ontwikkelingshulp nie.

“Wanneer dit in die vorm van leningsfinansiering beskikbaar gestel word, word die skuldposisie van ontwikkelende lande bloot slegter.

“Daarom doen ons ’n beroep op ontwikkelde ekonomieë wat histories meestal verantwoordelik is vir die vrystelling van kweekhuisgasse, om hul verantwoordelikhede teenoor ontwikkelende ekonomieë na te kom,” het Ramaphosa gesê.

Die band van vertroue tussen die ontwikkelde en ontwikkelende ekonomieë moet herstel word.

António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het ’n beroep op wêreldleiers gedoen dat ’n prys geplaas moet word op koolstof, terwyl subsidies vir fossielbrandstowwe en die finansiering van steenkool gestaak moet word. Meer en groter beleggings in hernubare energie en groeninfrastruktuur is nodig en daar moet verseker word dat die oorgang vir mense en gemeenskappe wat geraak word, geregverdig is.

Onder die ander leiers wat die beraad toegespreek het, is dr. Angela Merkel, bondskanselier van Duitsland, pres. Wladimir Poetin van Rusland, Boris Johnson, die Britse premier, en China se pres. Xi Jinping.

Baie van die leiers het gepraat oor stortingsmeganismes om koolsuurgas ondergronds te stoor.

Meer oor:  Joe Biden  |  Cyril Ramaphosa  |  Klimaatkrisis  |  Leiersberaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.