Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Geld bly weg om Vaal skoon te kry

Die bewaringsorganisasie Save the Vaal (Save) is weer op pad hooggeregshof toe oor die rioolbesoedeling van die Vaalrivier.

Dié keer om ’n agtste hofbevel teen staatsamptenare en politici te kry om die rioolbesoedeling van die Vaalrivier te stop.

Kol. Mahapa Foto: sifiso jimta

Maureen Stewart, Save se woordvoerder, het gister gesê die besoedeling van die Vaal­rivier gaan onverpoos voort.

140 miljoen tot 200 miljoen liter onverwerkte rioolafval loop nou daagliks van Emfuleni se rioolsuiweringsaanlegte en rioolpompe in die Vaalrivier Barrage in.

Volgens Stewart gaan Save nou die minister van finansies, van water en sanitasie en van omgewingsake; die Gautengse premier, die Gautengse LUR vir finansies en vir samewerkende regering en tradisionele sake en die Emfuleni-munisipaliteit voor die hof daag om gesamentlik verantwoordelikheid te aanvaar vir die voortslepende besoedelingskrisis in die Vaal­rivier.

Die hooggeregshof in Johannesburg het die Emfuleni-munisipaliteit en Oupa Nkoane, munisipale bestuurder, verlede jaar opdrag gegee om ’n uitvoerige plan op te stel van hoe hulle die Vaalrivier se besoedeling gaan staak. Die plan het nie gerealiseer nie, sê Stewart.

Die saak is vir 14 Mei op die ongeopponeerde hofrol geplaas.

Save het intussen ook samesprekings met Gautengse owerhede, onder wie amptenare van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake en verteenwoordigers van die premier se kantoor, gevoer.

Beloftes van optrede en planne is gemaak, maar die situasie in die Vaalrivier versleg daagliks, sê Stewart.

Sy sê Save waardeer die feit dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) by die Vaalrivier ontplooi is, maar die soldate word blykbaar gekortwiek weens ’n gebrek aan geld.

Volgens Stewart het die SANW meer as R1 miljard nodig om stukkende pompe en pype te herstel, maar die geld kom blykbaar nie. Verskeie bedrae geld wat gaan kom, word genoem, maar daar is geen deursigtigheid oor wie dit sal administreer, waar dit vandaan sal kom of hoeveel reeds bewillig is nie, sê Stewart.

Kol. Andries Mahapa, projekleier van die SANW in die Vaaldriehoek, sê die soldate beman nog van die pompstasies en rioolaanlegte.

Intussen vloei onverwerkte rioolafval in die strate van Vanderbijlpark en Vereeniging af tot in die Vaalrivier. In Vereeniging sypel rioolafval op sommige plekke in die kelderverdiepings van geboue in.

Stewart waarsku dat mense stroomaf van die Vaalrivier daagliks aan ernstige gesondheidsgevare blootgestel word.

By die Rietspruit, wat in Loch Vaal in die Vaalrivier invloei, is die E. coli-telling wat in die rivier beland 130 000/100 ml water. 400 dele E. coli /100 ml word as gevaarlik bestempel, sê Stewart.

Sy wys daarop dat daar hier en daar ’n pomp (van die 44 in Emfuleni) is wat soms werk, maar weens beurtkrag gaan staan alles weer stil.

Emfuleni het nie dieselenjins om die krag aan te hou nie.

Johan de Klerk, sameroeper van die Vaalaksiegroep in Parys, het gister gesê die dorp se inwoners het moed opgegee met staatsdepartemente en is besig om hul eie planne op te stel en sal probeer om die rivier by hulle met ingenieursvernuf skoon te maak. “Ons weet ons gaan niks regkry met regstappe nie. So, ons maak nou ander planne.”

Kol. Andries Mahapa, projekleier van die SANW in die Vaaldriehoek, sê die soldate beman nog van die pompstasies en rioolaanlegte.

Die SANW doen nog al die werk met sy eie begroting. Die departement van verdediging, van water en sanitasie, van samewerkende regering en tradi­sionele sake en Emfuleni het onlangs ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan, sê Mahapa. Dit is nog nie onderteken nie. Hy meen sodra dit onderteken is, sal die geld beskikbaar wees om die rioolkrisis op te los.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.