Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Gevreesde kewers straks ook in Bloem se bome

Daar word gevrees dat bome in Bloemfontein dalk ook besmet is met stompneuskewers, wat groot skade op ander plekke in die land aanrig.

Kenners is in die proses om te bevestig of dit wel stompneuskewers is wat nou ook Bloemfonteinse bome met sy verwoestende swam besmet.

Alle aanduiding is dat dit wel die geval is, sê die plantpatoloog prof. Wilhelm de Beer van die Bosbou-en-landbou-biotegnologie-instituut (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria.

Die stompneuskewer is slegs 2 mm groot, maar kan tot ’n kilometer ver vlieg.Foto: Fabi

Fabi wag op monsters wat geneem is van bome in Bloemfontein wat vermoedelik besmet is sodat DNS-toetse gedoen kan word.

Die grootste besmetting kom in Johannesburg, George, Knysna, Durban en Pietermaritzburg voor.

“Die kewer gaan deur die bas in die hout in en die gaatjie wat hy maak, is so groot soos ’n tandestokkie. In sy tonneltjies kweek hy die swam. Dit is soos ’n groentetuin om te eet, dit is eintlik sy kos,” sê De Beer.

Dit is dié swam wat die bome laat vrek, maar nie alle bome vrek van besmetting nie, sê hy.

Hy het Woensdag ’n oproep uit die stad gekry oor moontlike gevalle van besmetting en ook Vrydag van die Mangaung-metro-munisipaliteit, sê hy.

Op grond van foto’s wat De Beer gesien het, is hy baie seker dat hierdie kewers wel in Bloemfontein is.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, het bevestig dat dié kewers vermoedelik die bome in die stad besmet en dat hulle gister monsters vir toetsing na Fabi gestuur het. Die metro se parke-afdeling het sedert verlede Donderdag twee amptelike klagtes ontvang.

Khedama sê die metro is baie bekommerd oor die moontlikheid dat hierdie tipe kewers in die stad is. Hy sê Bloemfontein se boombevolking is nie so groot soos Johannesburg s’n nie en die stad het juis bome nodig om die uitwerking van aardverwarming te beperk.

Die munisipaliteit wag op terugvoering van dié wetenskaplikes en sal daarvolgens besluit watter stappe gedoen sal word.

André du Toit wys die uitwerking van vermoedelik stompneuskewers op die uitheemse esdoringboom in sy tuin in Westdene, Bloemfontein. Foto’s: Marita Herselman

De Beer sê hoewel Bloemfontein die enigste plek in die provinsie is waar tekens van die kewers aangemeld is, sal hy nie verbaas wees as dit in ander groter dorpe ook voorkom nie.

Die metro se parke-afdeling het gister monsters van die uitheemse esdoringboom (maple) in die egpaar André en Lovida du Toit se tuin in Westdene gaan neem. Lovida het saagsels op die boslelies (clivias) onder die boom gesien en toe die skade aan die boom waargeneem. Die egpaar vermoed die boom is sowat 80 jaar oud.

De Beer sê die esdoringboom is van die vatbaarste bome vir besmetting en is onder dié bome wat daarvan vrek.

Die uitheemse akkerboom en plataanbome vrek ook.

Dit is egter nie net uitheemse bome wat deur die kewers aangeval word nie. Die kewers is al op meer as 35 spesies inheemse bome gekry, sê De Beer.

Dié kewers is byvoorbeeld al in die inheemse kareeboom aangetref, wat volop in Bloemfontein voorkom, maar dié spesie gaan nie daarvan dood nie.

Gegrond op die foto’s van die boom in die Du Toits se tuin, is hy “baie seker” dit is met die kewers besmet.

Stompneuskewers het hulle vermoedelik tuisgemaak in die uitheemse esdoringboom (maple) in die egpaar André en Lovida du Toit se tuin in Westdene. Op die stam kan gaatjies gesien word waar wit poeier met ’n gommerigheid uitkom.
Stompneuskewers het hulle vermoedelik tuisgemaak in die uitheemse esdoringboom (maple) in die egpaar André en Lovida du Toit se tuin in Westdene. Op die stam kan gaatjies gesien word waar wit poeier met ’n gommerigheid uitkom.
Stompneuskewers het hulle vermoedelik tuisgemaak in die uitheemse esdoringboom (maple) in die egpaar André en Lovida du Toit se tuin in Westdene. Op die stam kan gaatjies gesien word waar wit poeier met ’n gommerigheid uitkom.
Stompneuskewers het hulle vermoedelik in die uitheemse esdoringboom (maple) in die egpaar André en Lovida du Toit se tuin in Westdene tuisgemaak.

Daar is baie min soorte kewers wat lewende bome aanval. Daarom vermoed hy dat dit dié tipe kewers kan wees.

Dié boom is nog lewend en dra blare, maar op die stam kan gaatjies gesien word waar wit poeier met ’n gommerigheid uitkom. Daarom sê De Beer is die boom besmet.

Die simptome van besmetting wissel wel van spesie tot spesie.

Die stompneuskewer is slegs 2 mm groot, maar kan tot ’n kilometer ver vlieg.

“As een boom in jou tuin vol lewende kewers is, kan hulle in ’n sirkel van ’n paar honderd meter rondom daardie boom al die omliggende erwe se bome besmet. Dit is hoekom ’n mens die boom moet verwyder.”

Volgens De Beer is daar nog nie ’n amptelik goedgekeurde middel om die stompneuskewer en sy swam in Suid-Afrika te bestry nie.

Dit is belangrik dat besmette bome verbrand word nadat dit afgesaag is en nie as vuurmaakhout gebruik word nie.

Duisende kewers kan deur een stuk hout versprei word. Die hout kan ook in stukkies kleiner as 2 cm opgekap word, maar moet dan ’n paar weke laat lê word.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Bome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.