Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Goeie reënval help Oos-Kaapse damme min

Ten spyte van die goeie reënval die afgelope week in Port Elizabeth, vra die departement van water en sanitasie munisipaliteite in die Oos-Kaap om strenger waterbeperkings toe te pas.

Die Kougadam het tans net 6,7% water. Foto: Elmarie Sampson

Die provinsie se gemiddelde damvlak was Donderdag 60,9% teenoor die 61,2% waarop dit verlede week voor die goeie reënval was, sê Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, in ’n verklaring.

“Onlangse reënval in dele van die provinsie het geen merkwaardige impak gehad nie, veral nie in die westelike deel van die provinsie nie, soos in Nelson Mandelabaai, die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit en die Kouga-munisipaliteit.”

Terwyl die Mthatha-, Mabheleni-, Corona- en Gcuwadam almal bo 80% vol is, lyk die prentjie vir die Algoabaai-watertoevoerstelsel minder aantreklik.

Dié watertoevoerstelsel, wat water aan die Nelson Mandelabaai-, Kouga- en Sarah Baartman-distrik lewer, was Donderdag op 17,82%, laer as verlede week se 18%.

In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was dié stelsel se gemiddelde vlak op 31,7%.

Damvlakke in die Algoabaai-watertoevoerstelsel Donderdag:

  • Kougadam: 6,7%
  • Impofudam: 27,2%.
  • Churchilldam: 16,4%.

Garth Sampson van die weerkantoor in Port Elizabeth sê Donderdag word 30 mm reën in Port Elizabeth verwag en 20 mm in die opvangsgebiede.

Tussen 20 mm en 30 mm reën word tussen Vrydag en Saterdag in Port Elizabeth voorspel, en oor dieselfde tydperk word tussen 30 mm en 40 mm reën in die opvangsgebiede verwag.

’n Man kyk die afgelope Sondag verslae na hoe laag die Impofudam in die Oos-Kaap is. Die dam staan tans op 27,2%. Foto: Elmarie Sampson

Sampson ontken gerugte dat 1 000 mm reën oor die naweek vir die stad voorspel word.

Hy sê dit is fopnuus en het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om nie onwaarhede te versprei nie.

“Kragtens die Weerdienswet is dit onwettig om vals waarskuwings uit te reik,” sê Sampson.

Slegs die Suid-Afrikaanse Weerdiens mag weerwaarskuwings uitstuur.

Hy sê nie net doen dié fopnuus afbreek aan hul professionele reputasie nie, dit veroorsaak ook paniek en nooddienste word onnodig op bystand geplaas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.