Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Gogga maak vir SA bang

Suid-Afrika kan miljoene van sy bome verloor as wetenskaplikes nie gou ’n manier vind om ontslae te raak van die stompkopkewer nie. Dié kewer, wat hom die afgelope paar jaar hier tuisgemaak het, besmet die bome met ’n fungus wat hulle laat vrek.

Johannesburg is bekend vir sy boomryke lane . . . maar vir hoe lank nog? Foto: Elizabeth Sejake

Op die oomblik is die grootste besmetting in Johannesburg, Knysna en George. Duisende bome word geraak.

Prof. Wilhelm de Beer van die Bosbou- en Landbou-biotegnologie-instituut (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria sê bome op sypaadjies en in private tuine, landbougewasse (soos avokado- en pekanneutbome) én inheemse woude is kwesbaar.

“Daar is ook bewyse dat die plaag die Suid-Kaap se inheemse woude aanval.”

Een stuk hout kan 50 wyfies bevat.

In dié stadium is Limpopo, Mpumalanga en die Kaapse Skiereiland die enigste plekke waar daar nog nie besmetting gerapporteer is nie.

“Ek was die afgelope week in die Tsitsikamma-woud waar ons twee projekte begin het om die kewer se impak en verspreiding in die woude by George en Knysna te monitor,” sê De Beer.

Volgens Jan Hendrik Venter van die departement van landbou, bosbou en visserye, kom die kewer, wat net sowat 2 mm groot is, van Suidoos-Asië en is dit die eerste keer in 2017 in Pietermaritzburg se botaniese tuin opgemerk. “Ons vermoed dis ‘ingevoer’ saam met houtprodukte en verpakkingsmateriaal.”

So lyk die stompkopkewer. Dit is 2 mm lank en vernietig Suid-Afrika se bome.

Die plaag is ook ’n probleem in Kalifornië in Amerika en in Israel.

Die wyfie boor tonneltjies so groot soos die punt van ’n pen deur die bas en hout van lewende bome. Hier lê sy eiers en kweek dan ’n Fusarium-fungus as kos.

In vatbare bome kan die fungus verder in die hout versprei en die vaatweefsel blokkeer, wat die boom aftakel en uiteindelik doodmaak. Op die ou end is dit die fungus, en nie die kewer self nie, wat die boom doodmaak.

Só lyk die tonneltjies wat die stompkopkewer binne-in bome grawe om ’n fungus daar te plant en eiers te lê.

“In Suid-Afrika weet ons tans van 77 gasheer-boomspesies vir die kewer, en 20 hiervan is reproduktiewe gashere omdat die kewer daarin kan voortplant.”

Afhangend van die boomspesie kan bome binne ’n paar maande of ’n paar jaar vrek. Bome wat blootgestel is aan stresfaktore soos droogte of te veel wind, is meer kwesbaar, sê De Beer.

Dr. Guy Preston van die departement van omgewingsake sê R5 miljoen is opsy gesit vir dringende navorsing.

Nat kolle op bome en afskilfering is gewoonlik ’n teken dat dit besmet is deur die stompkopkewer. Foto: Elizabeth Sejake

Standaard- chemiese middels wat gebruik word om sulke peste te bestry, werk nie in dié geval nie, omdat dit net op die bas aangewend word en nie die boom diep genoeg binnedring nie. Die ideaal is om ’n natuurlike vyand te kry om dit aan te val, maar dit moet nie iets wees wat groter skade aanrig nie.

Volgens De Beer het navorsing in Kalifornië sedert 2003 gewys dat van die chemiese middels wat wel werk, op die lange duur nadelig kan wees vir die boom. “Dit het basies dieselfde effek as langdurige antibiotika-gebruik op ’n mens,” sê hy.

In Kalifornië is gevind die doeltreffendste bestuursmaatreël is om die reproduktiewe gasheerbome wat erg aangetas is te verwyder en te vernietig.

’n Plataanboom wat vol klein gaatjies, so groot soos die punt van ’n pen, geboor is deur die stompkopkewer.

“Dié bome moet met ’n masjien opgekerf word in stukkies kleiner as 2 cm. Dié stukkies hout kan dan verwerk word tot kompos. In Kalifornië het gebiede wat erg besmet was baie goed herstel nadat die probleembome verwyder is,” sê De Beer.

Preston sê sy departement gaan 22 van dié masjiene teen R400 000 elk koop. “Dit sal landwyd versprei word en ons sal areas uitwys waarheen afgekapte bome geneem kan word om opgekerf te word.”

Hy sê mense wat met hout, veral vuurmaakhout, van een plek na ’n ander reis, vererger die probleem. “Ouens wat groot bome snoei, kap gewoonlik die hout op en verkoop dit in ander gebiede as vuurmaakhout,” sê Preston.

“Een stuk vuurmaakhout kan soveel soos 50 wyfies, wat elk 32 eiers kan lê, bevat. Dit beteken potensieel 1 600 kewertjies van een stuk hout,” sê De Beer.

As jy ’n moontlik besmette boom wil aanmeld, kan jy ’n foto en inligting na diagnostic.clinic@fabi.up.ac.za stuur.

Meer inligting oor die plaag is ook by www.fabinet.up.ac.za/pshb beskikbaar.

Dié loop gevaar

As jy enige van dié bome in jou tuin het is daar ’n kans dat dit deur die stompkopkewer aangeval word. Kyk uit vir tekens soos nat kolle op die boom en klein gaatjies so groot soos die punt van ’n pen. Dis beter sigbaar as jy ’n stukkie van die bas afkerf.

Inheems:

Bosvaderlandswilg

Kuskoraalboom

Waterkeurtjieboom

Fonteinbosboom

Kaapse wilgerboom

Uitheems:

Swarthoutboom

Swartwattelboom

Chinese esdoringboom

Veeresdoringboom

Japanse esdoringboom

Pienk vlamboom

Soetpeulboom

Rooigomboom

Louriermagnoliaboom

Avokadoboom

Gewone plataanboom

Moeraseik

Akkerboom/eikeboom

Kasterolieboom

Witwilgeboom

Meer oor:  George  |  Knysna  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.