Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
'Gratis borrelbad' in klein waterval dui op erge besoedeling
’n Bol skuim vorm aan die voet van ’n klein waterval in die Markman-kanaal wat tot in die Swartkopsriviermonding vloei. Volgens ’n omgewingsbestuurder word die skuim weens gifstowwe en chemikalieë in die water veroorsaak. Foto: Lulama Zenzile

’n Groot bol skuim wat dalk vir kinders soos ’n gratis borrelbad kan lyk, is in werklikheid die bewyse van rioolvuil en besoedeling deur die nywerheidsektor wat opborrel.

Die skuim aan die voet van ’n klein waterval in die Markman-kanaal langs Dibanisa-weg in Motherwell, Port Elizabeth, is deel van ’n stroom wat tot in die Swartkopsriviermonding vloei.

Jenny Rump, ’n omgewingsbestuurder van die Zwartkops-bewarea, die bewakers van die Swartkopsrivier en -riviermonding, sê die skuim ontstaan weens die rioolvuil, asook besoedeling van gifstowwe en chemikalieë wat in die kanale gestort word.

Met die DA se besoek aan die Markman-stormwaterkanaal, wat met die rivier verbind word, het Rump twee gebiede uitgewys waar besoedelende stowwe al bykans drie maande lank invloei.

’n Laag rioolvuil lê by die bek van een van die stormwaterpype wat in die Markman-kanaal uitloop. Foto: Lulama Zenzile
Die kanaal lyk tans soos ’n rioolpyp, eerder as ’n stormwaterkanaal, en alles eindig in die Swartkopsriviermonding, wat ’n uiters belangrike kweekdam vir die see is.

“Die probleme is voor die inperkingstydperk by die (Nelson Mandelabaai-metro) aangemeld, maar niemand het monsters geneem sodat ons bewyse van die besoedeling kan kry nie,” sê Rump.

Die nywerheidsektor word swaar tariewe opgelê om afvalstowwe op die regte manier te verwyder. In ’n poging om die tariewe te systap, word afvalstowwe dus onwettig in die stormwaterpyp afgegooi en dit lei uiteindelik tot die besoedeling.

Benewens dié besoedeling veroorsaak foutiewe rioolpompstasies dat onverwerkte rioolvuil by die kanale invloei, sê Rump.

Sy meen verouderde infrastruktuur, asook ’n gebrek aan instandhouding speel ’n groot rol.

“Die kanaal lyk tans soos ’n rioolpyp, eerder as ’n stormwaterkanaal, en alles eindig in die Swartkopsriviermonding, wat ’n uiters belangrike kweekdam vir die see is.

’n Eend klap sy vlerke om uit die laag slyk in die Markman-kanaal op te styg. Foto: Lulama Zenzile

“Die vis van die see en die ongewerweldes wat hulle eet, bly in die Swartkopsriviermonding, en hulle moet op ’n manier in al die besoedeling oorleef. Die visse, asook die mense wat dié visse eet, sal hierdeur geraak word.”

Die organismes wat deur die besoedeling en rioolvuil in die riviermonding beland, veroorsaak giftige alge in die water. Volgens Rump gebruik die alge die suurstof in die water, wat in ’n kettingreaksie die visse laat versmoor.

Hoewel Rump haar vermoedens het oor wie die skuldige fabrieke is, benodig sy bewyse van watermonsters, wat deur die metro gedoen moet word.

“Sonder bewyse kan ons nie die skuldiges uitwys en vasvat nie. Dit beteken die stortings sal voortgaan.”

Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap, het ook sy kommer oor die toestand van die rivier uitgespreek en gesê die situasie sal op nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlak aangepak word.

Volgens hom behoort dié riviermonding dieselfde beskerming en aandag as die Knysna-strandmeer te kry.

Bhanga waarsku dat kinders moeilik by die giftige skuim sal verbystap sonder om daarin te wil speel.

“Ek het in die gebied grootgeword. Ons het hier geswem en uit die rivier geëet. Vandag is dit ’n gesondheidsrisiko, maar die regering gryp nie in nie,” sê Bhanga.

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Motherwell  |  Port Elizabeth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.