Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Groep hof toe om dié vallei te ‘red’

Save Our Limpopo Valley Environment gaan binnekort hof toe om ’n interdik te kry teen die regering en 'n Australiese myngroe om hulle te dwing om alle­ bedrywighede in die Limpopokom te staak totdat die gemeenskap “presies weet” wat die regering vir die streek beplan.

Wally Schultz, voorsitter van Solve, het Maandag gesê die groep het ’n span regslui wat pro bono vir hulle gaan optree. Die regstappe is daarop gemik om die dorre Limpopovallei te “red” van die regering se planne vir die vestiging van die Musina-Makhado- spesiale ontwikkelingsone (SES).

Adv. Ally Murray, ’n kundige op die gebied van kubermisdaad, sê ’n span regslui stel tans hofstukke op.

“Ons regsaak gaan berus op grond­wetlike aspekte, soos die skending van menseregte, die moontlike oortredings van maatskappywetgewing, asook die Waterwet en arbeidswette.

Adv. Quintin van den Heever, lid van die span en spesialis op die gebied van die Maatskappyewet, sê die gemeenskap het nie behoorlike inligting oor wat die regering met die Limpopovallei beplan nie.

“Daarom gaan ons met die interdik druk op alle partye plaas om dokumente aan ons te oorhandig.”

Volgens hom wil die gemeenskap onder meer weet wie die waterlisensie vir MC-mining (CoAL) destyds goedgekeur het.

Volgens Van den Heever het lede van die gemeenskap glo verneem bouwerk aan die SES begin vroeg volgende jaar. Die inwoners van die gebied sien dinge gebeur, maar weet nie hoe om dit te interpreteer nie. Hulle kan dus nie hul toekoms beplan nie en is bang hul water word van hulle weggeneem of dit word so besoedel dat dit hul dood kan veroorsaak.

Daar is na verneem word ook planne vir die bou van ’n spoorlyn, sê Van den Heever. “Ons vors al dié aspekte na en wil voor einde vanjaar in die hof wees. Ons wil voorkom dat ’n graaf in die grond gesteek word voordat ons nie elke ooreenkoms of dokument in ons besit het nie.”

Hy waarsku as dié groot nywerheidsaktiwiteit deurgevoer word, gaan dit die hele ekostelsel in die Limpoporivierkom vernietig.

’n Lid van die gemeenskap het aan Beeld gesê duisende kremetarte in die vallei sal ook doodgaan en die riviere gaan opdroog.) Luidens ’n verslag wat vroeër vanjaar gepubliseer is en waaroor Beeld berig het, sal die SES uit twee komponente bestaan. Een deel sal digby Musina opgerig word sodat goedere van hier na die res van Afrika uitgevoer kan word. Die tweede deel sal suid van die Limpoporivier op agt plase aan die oostekant van die N1-snelweg in die Vhembe-distriksmunisipaliteit se gebied opgerig word. Die nywerheidspark sal onder meer bestaan uit ’n petrochemiese aanleg, staal- en vlekvryestaalfabrieke, ’n mangaan- en kalkaanleg, asook ’n sementfabriek.

Die samestellers van die verslag sê die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie het ’n voorlopige studie gedoen oor hoe om water na die droë Limpopokom te bring om sowel mynbou as die industrialisering van die gebied te stimuleer. ’n “Ongebruikte” waterbron in Zimbabwe is glo vir dié doel geïdentifiseer. Van den Heever sê ’n lid van hul span was by dié “bron” en dit is “kurkdroog”.

  • Fin24 het in Mei 2018 berig die Chinese regering en pres. Cyril Rama­phosa het ’n beleggingsooreenkoms van sowat R16,2 miljard ($1,1 miljard) met die Bank van China gesluit. Nog sowat R1,3 miljard ($90 miljoen) gaan belê word in die produksie van steenkool en termiese steenkool in die oopgroefmynprojek in Makhado.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.