Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Groep wil hiér 15 gate boor

Grondeienaars en inwoners van Groot Marico is erg omgekrap omdat ’n mynboumaatskappy boorgate in die opvangsgebied van die Marico­rivier in die Marico-biosfeer­reservaat wil boor om te soek na onder meer goud, nikkel, kobalt, chroom en platinum.

Singo Consulting, wat ’n impakverslag namens Legare Mining­ Services (LMS) opgestel het, sê die maatskappy beoog­ om 15 gate in ’n gebied van 1 989 ha te boor.

Die beoogde prospekteeraansoek val gedeeltelik binne die Marico- Beskermde Gebied (biosfeer), wat die Verenigde Nasies (VN) se opvoedkundi-ge, wetenskaplike en kulture-le organisasie (Unesco) in 2018 geproklameer het.

Verskeie belanghebbendes met wie Beeld gister gepraat het, sê hulle het byna tien jaar gewerk om die dolomietwaterdraer (akwifer) van die Maricorivier en omliggende plase wetlik te bewaar.

Jeanne Kemack van die nieregeringsorganisasie Mmutlwa wa Noko het gister gesê die Maricorivier is die waterbron van onder meer groot tradisionele gemeenskappe, wildplase en besproeiingsplase.

“Dit is daarom noodsaaklik dat die opvangsgebied van die rivier beskerm word,” sê Kemack­.

AfriForum het sy eie omgewingspesialis aangestel en kommentaar op dié gebrekkige verslag ingestuur.

Singo Consulting erken in die verslag die gebied is baie sensitief, veral wat die “ongerepte” waterbron en rivierlewe betref. Die biodiversiteit van die omgewing is ook baie sensitief.

Luidens die verslag is die meeste belanghebbendes bekommerd oor die prospekteerwerk se impak op die oog van die Maricorivier. Luidens die verslag sal mynbou in dié gebied werkgeleenthede verskaf en “ ’n positiewe bydrae tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) lewer”.

Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groot Marico, het Donderdag gesê gemeenskapslede het dié burgerregteorganisasie se hulp ingeroep met die aansoek.

“Ons het ondersoek ingestel en gevind die proses van openbare deelname is gebrekkig.

“Een van die gebreke wat ons opgemerk het, is dat Singo Consulting die verslag opgestel het met behulp van navorsing wat die konsultant aanlyn gedoen het. Dit is heeltemal onaanvaarbaar.”

Volgens Coetzee was baie inwoners van Groot Marico nie bewus van die prospekteeraansoek nie omdat die advertensie daaroor in die Brits Pos verskyn het.

Coetzee sê die Brits Pos word glad nie in Groot Marico verkoop en gelees nie.

Belanghebbendes het nog tyd om kommentaar op die aansoek te lewer.

“Die gemeenskap is dus nie behoorlik oor die aansoek ingelig nie.”

Hy sê AfriForum het sy eie omgewingspesialis aangestel en kommentaar op dié gebrekkige verslag ingestuur. “Ons sal die situasie fyn dophou,” sê hy.

Volgens Kemack het die gemeenskap die afgelope tien jaar met “minstens” 23 myn- of prospekteeraansoeke te doen gehad.

Kemack sê belanghebbendes het nog tyd om kommentaar op die aansoek te lewer. Singo Consulting moet sy werk teen 12 Augustus afgehandel hê.

Beeld verneem Singo Con­sulting is glo besig om bykomende inligting in die verslag by te werk.

Singo Consulting se konsultant Betty Ntuli het onderneem om geregistreerde belanghebbendes binnekort in te lig oor die sperdatum vir kommentaar op die verslag.

Meer oor:  Singo Consulting  |  Groot Marico  |  Nikkel  |  Goud  |  Omgewingsbewaring  |  Gate Boor  |  Kobalt  |  Chroom En Platinum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.