Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Groep wil hof toe oor olifantjies

Die trustees van die organisasie Advocate4Earth Trust het met regstappe teen die Zimbabwiese regering begin in ’n poging om te keer dat dié land nóg olifantkalwers uit hul troppe vang om as “betaling van skuld” aan China gestuur te word.

In hofstukke wat beteken is aan die Zimbabwiese parke-en-natuurlewe-agentskap (Zimparke), sy direkteur-generaal, die hoofveearts belas met die vangs van wild, die bestuurder van die Hwange-natuurreservaat en die minister van omgewingsake, klimaatsverandering, toerisme en die gasvryheidsbedryf, sê Lenin Chisiara, uitvoerende direkteur van die Advocate4Earth Trust, as Zimbabwe die beoogde olifante uitvoer, druis dit teen die regte van Zimbabwe se mense in.

Dit sal ook “onwettig” wees omdat die Zimbabwiese regering lid is van die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites).

Ingevolge Zimbabwe se ooreenkoms met Cites het dié land herhaaldelik onderneem om nie in olifante handel te dryf nie en “net in uiterste gevalle” olifante binne Afrika te verskuif.

Chisiara sê in die hofstukke Advocate4Earth tree in openbare belang op. Advocate4Earth is in die lewe geroep om namens Zimbabwe se mense en sy natuurlewe op te tree, veral in sake teen die staat.

Hy waarsku die Zimbabwiese regering as hy voortgaan met sy planne om olifantkalwers uit die Hwange-natuurreservaat te vang om hulle China toe te stuur, sal dit ’n oortreding op “verskeie vlakke wees”.

Dit sal onder meer ’n oortreding van die Zimbabwiese grondwet en die vereistes van Cites wees.

Zimbabwe is reeds sedert 1981 lid van Cites en onderskryf dié konvensie se resolusies.

Hy herinner die Zimbabwiese regering daaraan dat die 140 olifante wat hy reeds sedert 2012 aan China verkoop het, aan mishandeling onderwerp word.

Die regering is glo bewus van die mishandeling van die olifantkalwers omdat ’n dokumentêre program op CNN wys hoe die diere geleer word om toertjies te doen.

Die program is aan alle lede van die Zimbabwiese kabinet gewys, lui Chisiara se verklaring.

Foto’s wat geneem is van die 32 olifantkalwers wat in 2019 na China geneem is, wys die “onmenslike toestande” waarin die diere aangehou word.

“Elkeen word afsonderlik in ’n staalhok met ’n kaal vloer aangehou.”

Die hofstukke lui voorts daar is geen “deursigtigheid” wat betref hierdie voorgenome (die vyfde sedert 2012) optrede deur Zimparke nie.

Weens ’n gebrek aan deursigtigheid veroorsaak dit spanning in die gemeenskap omdat olifante deel is van Zimbabwe se erfenis wat bewaar moet word.

Al die vorige vangste en verhandeling van olifantkalwers is in die geheim gedoen, sê Chisiara­.

“Daar is berigte dat hoë amptenare in die regering die olifante misbruik om regeringskuld mee af te betaal,” lui die verklaring.

Advocate4Earth dring by die respondente aan op inligting oor sy voorgenome planne en sê hy sal nie skroom om die hof te vra om enige vangste en uitvoere van olifante uit Zimbabwe te verhoed nie.

  • Tinashe Farawo, woordvoerder van Zimparke, het Donderdag getwiet hulle vang geen olifante nie. Meer as 40 dierewelsynorganisasies het onlangs in ’n brief gerig aan die Zimbabwiese regering en hoë amptenare in Cites beweer hulle het inligting wat daarop dui Zimbabwe wil die olifantjies vang en deur Nigerië na China stuur. Dít is om Cites se vereistes te omseil.

Van die ondertekenaars van die brief het Donderdag gesê hulle hou die situasie dop, maar meen Zimparke het nog nie met die vangs van die kalfies begin nie “omdat die wêreld se oë nou op die doen en late van dié agentskap is”.

Meer oor:  Zimbabwe  |  Olifante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.