Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kommer ná 8 kameelperde in reservaat vrek
Agt kameelperde het in die Willem Pretorius-natuurreservaat by die Allemanskraaldam in die hart van die Vrystaat gevrek. Foto: Willem Pretorius-natuurreservaat

Groot kommer heers nadat agt kameelperde in die Willem Pretorius-natuurreservaat in die Vrystaat gevrek het.

Dirk Hagen, waarnemende direkteur: kommunikasie en inligtingstegnologie van die Vrystaatse departement ekonomiese sake, kleinsake ontwikkeling, omgewingsake en toerisme (Destea), het bevestig dat die agt diere sowat drie weke gelede gevrek het.

“Ons het die karkasse vir lykskouings na Onderstepoort gestuur om vas te stel wat die oorsaak was,” sê Hagen.

Die reservaat is een van 14 wat Destea in die Vrystaat bedryf.

Na wat verneem word, is ’n volwasse kameelperd sowat R25 000 werd; die totale waarde van die diere wat gevrek het, beloop dus R200 000.

Hagen het by navraag nie bevestig of Destea se veearts oor genoeg ondervinding beskik vir die versorging van kameelperde en ander groot wildsoorte nie. Hy wou ook nie sê hoe lank die veearts al in diens van die departement is nie.

Daar word ook gevra of die kameelperde wat geneig is om dié tyd van die jaar lamsiekte te kry daarteen ingeënt was.

Drie van Destea afgedank

Intussen word verneem dat dr. Pierre Nel, jare lange veearts van die departement, een van drie werknemers is wat die afgelope paar weke briewe van ontslag ontvang het.

Nel was een van ses werknemers van die departement wat die afgelope bykans jaar en ’n half teen volle betaling by die huis sit nadat die destydse LUR van die departement, dr. Benny Malakoane, hulle geskors het.

Die ses word daarvan beskuldig dat hulle op ’n onwettige wyse wild in die wildreservate geoes het.

Buiten Nel het Danie Erasmus, bestuurder van die Sandveld-reservaat naby Bloemhof, en Flip Crouse, adjunkdirekteur: natuurbewaring, ook vandeesweek briewe ontvang.

Vlam Els en Frans Marais, albei natuurbewaarders en Thabeng Selemela, direkteur van bewaring, omgewingsake en toerisme, is ook aangekla en geskors, maar uiteindelik onskuldig bevind.

Nel, Erasmus en Crouse beplan glo om hul skuldigbevinding en ontslag te betwis.

Daar word bespiegel dat politieke moddergooiery ’n beduidende rol speel.

Nel kon nie vir kommentaar bereik word nie. Sy voormalige kollegas sê hy vang vis in Zambië om van al die stres weg te kom.

Volgens ’n onberispelike bron het Selemela onmiddellik ’n verplasing na ’n ander departement gevra. Hy kon ook nie vir kommentaar bereik word nie.

“Ons sal binnekort kommentaar kan lewer oor die proses wat die drie wat ontslaan is, gaan volg om hul ontslag te betwis. Ons wil liewers nie nou iets sê wat die proses in die wiele kan ry nie,” sê Odie Odendaal, bestuurder van die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA), in die Vrystaat.

“Ons glo steeds dat hul ontslag onregmatig is en dat hulle onskuldig is en net hul werk gedoen het.”

Meer oor:  Diere  |  Natuurreservaat  |  Natuurbewaring  |  Wild
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.