
Julian Ortlepp van TreeWorks sê hy het tydens ’n inspeksie van die indringerboorkewer in Hurlingham, Sandton, op dié besmette papierbasdoringboom afgekom. Die gom wat by die gate uitsypel, is ’n teken dat die boom besmet is. Foto’s: TREEWORKS VIA FACEBOOK
Die Johannesburg-metro se parke-en-dieretuinafdeling (JCPZ) doen eersdaags saam met die Universiteit van Pretoria se Bosbou- en Landbou-biotegnologie-instituut (Fabi) eksperimente om ’n oplossing te vind vir die indringerboorkewer wat soveel bome verwoes.
“Duisende bome oor Johannesburg heen is deur die kewer besmet,” sê Julian Ortlepp van TreeWorks, ook ’n medewerker.
“Waar drie boomspesies aanvanklik deur die kewer besmet is, word meer as 30 bome nou al deur die kewer geteiken. Dit kan beteken ’n mens moet al die gasheerbome verwyder, maar ons het nog nie daardie punt bereik nie,” sê Ortlepp.
“Die bome reageer anders op die kewer en Fabi belê baie hulpbronne in die kwessie. Met die eksperimentering sal ons hopelik die pes se lewensduur in Suid-Afrika beter verstaan en ’n behandeling kry, maar dit kan tot twee jaar neem.”
Ons moet nog sien hoe doeltreffend die behandeling is.
JCPZ sê in ’n mediaverklaring hy het in Januarie daarvan bewus geraak dat ’n plaag polifagiese boorkewers (Euwallacea sp.) die bome met ’n dodelike swam (Fusarium sp.) besmet.
Dié boorkewer het nou al na die Walter Sisulu Botaniese Tuin aan die Wes-Rand en na George in die Wes-Kaap versprei, berig Beeld.
Ortlepp sê dit val selfs die pekanneutbome in Hartswater in die Noord-Kaap aan.
Fabi sal die chemies beheerde eksperimentering in Hurlingham, Gauteng, doen.

TreeWorks behandel dié eikeboom in ’n private eiendom in Sandhurst wat deur die indringerboorkewer besmet is, nou al vir 10 maande. “Dit lyk asof die behandeling werk omdat die boom nie verder doodgaan nie,” skryf hy op sy Facebook-blad.
TreeWorks bespuit al ’n paar bome met ’n swam-en-insekdoder en ’n middel wat die bome afstootlik vir die kewers maak.
“Ons moet nog sien hoe doeltreffend die behandeling is. Ons sal in die lente ’n beter idee hiervan kan kry,” sê Ortlepp.
Doringbome en eikebome gaan vinniger dood, maar Londense plataanbome en Australiese vlambome word ook besmet.
Intussen vra Nonhlanhla Sifumba, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsontwikkeling in Johannesburg, dat die gemeenskap besmette bome aanmeld by trees@jhbcityparks.com.
Die simptome wissel, maar inwoners moet op die uitkyk wees vir wit vlekke op die boombas, asook vir gom wat by gate uitsypel.
“Ons kon nog nie die omvang van die besmetting in Johannesburg bepaal nie,” sê Sifumba.
Hoewel die kewer ’n verwoestende impak in onder meer Asië en Kalifornië in Amerika gehad het, is Sifumba versigtig om nie paniekerig te raak totdat die omvang van die skade vasgestel is nie.
’n Komitee is aangestel om die hulpbronne beskikbaar te stel sodat die omvang van die besmetting vasgestel en verstaan kan word. Metro-werknemers gaan opgelei word om die bome op die regte manier te verwyder en die kewer en swam wat dit vergesel te identifiseer.
Spesifieke stortingsterreine vir hout word ook geïdentifiseer. Boonop sal die verwyderde bome vervang word.