Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Gruwels teen leeus op ’n einde
’n Jong, brandsiek leeu wat in aanhouding geteel is agter die heining van sy kamp. Foto: Bloodlions

Die einde van die geblikteleeu­bedryf het aangebreek.

Bewaringsorganisasies oefen al 24 jaar lank druk op die regering uit om die teel van leeus in aanhouding en newebedrywe – interaksie met leeuwelpies en die handel in hul beendere – te verbied.

Barbara Creecy, minister van visserye, bosbou en omgewing­sake, het gister by die bekendstelling van ’n verslag oor onder meer die bestuur, jag en teel van olifante, renosters, luiperds en leeus gesê die geblikteleeubedryf skaad Suid-Afrika se beeld as bewarings- en toerismebestemming.

Sy het bygevoeg halfmak leeus het geen bewaringswaarde nie.

Volgens Creecy het haar departement reeds begin met stappe om die bedryf te sluit.

Die departement moet ook begin om van die leeus en hul opgepotte beendere ontslae te raak.

Creecy het bygevoeg dié bedryf – veral die handel in leeu­beendere – bedreig die bewaring en voortbestaan van wilde leeus omdat dit stropery en sluikhandel aanwakker.

Die uitfasering van die bedryf sal in oorleg met leeuboere geskied, het sy gesê.

Creecy het benadruk dat trofeejag in die toekoms baie strenger gereguleer gaan word.

Geblikte leeus in ’n kampie waar toeriste hulle kan besigtig. Dié leeus se eindbestemming is gewoonlik dat hulle gejag word en hul beendere na die Ooste uitgevoer word, waar dit opgekook word en ’n 'medisinale' drank daarvan gemaak word. Foto: Bloodlions

Sy wil graag sien dat Suid-Afrika trofeejagters se voorkeurbestemming word, het sy gesê.

Dr. Louise de Waal, direkteur van Bloodlions, het gesê dié bewaringsorganisasie is verheug oor Creecy se standpunt en sal die regering graag met die uitfasering help.

Volgens Bloodlions is daar tussen 8 000 en 12 000 halfmak leeus op 350 leeuplase.

Fiona Miles, direkteur van die bewaringsorganisasie Four Paws, het gesê dié internasionale bewaringsorganisasie sal Creecy ook bystaan met die “massiewe taak” wat vir haar voorlê. Dit sluit in om die leeus op ’n menslike manier van kant te maak.

Four Paws verwelkom ook die minister se besluit om inspekteurs “uit die wyer bewarings­gemeenskap” aan te stel om na die welsyn van dié diere om te sien.

“Ons sien daarna uit dat Suid-Afrika weer die wêreldleier word wat die bewaring van groot katte betref,” het Miles gesê.

Volgens Creecy is daar ook ander “brandende kwessies” wat die bewaring van olifante, luiperds en swart- en witrenosters betref.

Sy het renosterboere aangemoedig om met dié bedreigde spesie in sy natuurlike omgewing te teel.

Geen intensiewe telery van renosters in kampies sal meer toegelaat word nie.

Creecy het ook haar voet neergesit dat sy haar nie in dié sta­dium gaan beywer vir die oopstel van die internasionale handel in renosterhoring nie.

Oor die handel in ivoor het Creecy gesê dit is belangrik dat alle Suider-Afrikaanse lande waar olifante voorkom, eenstemmigheid hieroor bereik.

Foto ter illustrasie.

Sy het ná die bekendstelling van die verslag in haar toespraak verwys na haar departement se “Strategiese Plan 2024”, wat daarop gemik is om die grondgebied van bewaarde gebiede uit te brei.

Dié paneel het reeds op 10 Oktober 2019 met hul werksaamhede begin.

Die verslag beslaan meer as 500 bladsye en kan gelees word op die departement se webblad.

Die departement neem kennis van belanghebbendes se klagtes oor ondoeltreffende en teenstrydige besluitneming (oor byvoorbeeld jagpermitte en wildbestuur) tussen die nasionale en provinsiale departemente. Daar moet herbesin word oor die toekoms van opgepotte ivoor en renosterhoring. Wanneer wit- en swart­renosters, olifante, leeus en luiperds lewend uitgevoer word, moet hul bewaring vooropgestel word.

Daarom moet die diere uitgevoer word na ’n habitat waar hulle natuurlik voorkom. Organisasies wat luiperds in hul natuurlike omgewing bewaar, sal moontlik beloon word.

Renosterboere verwerp dié verslag omdat daar geen ekonomiese voordele daarin vir hulle is nie, sê Pelham Jones, voorsitter van die Private Renostereienaarsvereniging.

Hy sê 60% van alle renosters in Suid-Afrika is in private besit.

Dié boere moet egter self vir die renosters se veiligheid sorg sonder dat die regering enigiets bydra.

Hy het gesê as renosterboere internasionaal met die dier se horings of “net die skaafsels” kan handel dryf, sal dit miljoene rande vir Suid-Afrika verdien. Dit sal ook sorg dat renosterboere behoorlik na hul diere se veiligheid kan omsien.

Volgens hom het samesprekings tussen renosterboere en die regering sedert 2016 niks opgelewer nie.

Meer oor:  Barbara Creecy  |  Leeubedryf  |  Wildbewaring  |  Jag  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.