Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het motoriste Vrydag gewaarsku om uiters versigtig te bestuur op Gautengse paaie.
’n Woeste wolkbreuk, gepaardgaande met donderbuie en hael op sekere plekke, het omstreeks 13:00 oor die suidelike dele van Gauteng losgebars.
In Benoni en Alberton aan die Oos-Rand het foto’s van hael- en vloedskade vinniger op sosiale media versprei as wat die storm oor die provinsie beweeg het.
Op die N12-snelweg naby Benoni het dit gelyk asof dit gesneeu het ná ’n swaar haelstorm.
Mbavhi Maliage, ’n weervoorspeller, sê die storms sal na verwagting tot teen die aand se kant voortduur.
“Ons verwag dat die storms teen tussen 19:00 en 20:00 sal opklaar.”
Die storm sal vanuit ’n suidelike rigting in 'n noordwestelike rigting beweeg, sê Maliage.
Die SAWD verwag dat daar hier en daar skade kan voorkom weens die haelstorms. “Mense moet maar versigtig wees en paaie vermy as hulle kan,” sê Maliage.
Geen verdere storms word vir die naweek voorspel nie, behalwe verspreide reënbuie.