
’n Knysna-seeperdjie van naderby gesien.Foto: Sanparke
Sanparke het ’n beroep op die publiek gedoen om te help om die bedreigde Knysna-seeperdjie te beskerm.
Dié seeperdjie (Hippocampus capensis) is die enigste ter wêreld wat net in riviermondings voorkom. As volwaardige visse swem hulle met vinne en haal deur kieue asem. Pare is monogaam.
Hul beperkte verspreiding maak van hulle die mees bedreigde seeperdjie ter wêreld.
In die Tuinroete kom die seeperdjie hoofsaaklik in die Knysna-strandmeer voor en ’n klein aantal ook in die Keurboomsrivier in Plettenbergbaai en Swartvlei naby Sedgefield.
In April verlede jaar is ’n aantal dooie Knysna-seeperdjies in ’n vangnet in die Knysna-strandmeer gevind, skaars ’n maand nadat twee mans lewende seeperdjies in ’n bottel naby Theseneiland aan iemand wou verkoop.
Sedertdien werk Sanparke nou saam met die polisie en ander belanghebbendes om soortgelyke voorvalle te voorkom.
Nandi Mgwadlamba, ’n woordvoerder van Sanparke, sê die publiek kan op verskeie maniere betrokke raak om die seeperdjies te help beskerm.
Mense kan deel uitmaak van veldtogte teen besoedeling in die gebied, ander mense bewus maak van die seeperdjies of verdagte optrede by die strandmeer by die owerhede aanmeld.
“Mense kan deel uitmaak van veldtogte teen besoedeling in die gebied, ander mense bewus maak van die seeperdjies of verdagte optrede by die strandmeer by die owerhede aanmeld.”
Die Knysna-seeperdjie is op die lys van bedreigde spesies van die Wêreldbewaringsunie (IUCN) en word slegs by die uShaka Marine-akwarium in Durban, die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad, die Nasionale Dieretuin in Pretoria en Sanparke se kantore by die Theseneiland-hawehoof in Knysna vertoon.
Akwariums wat seeperdjies huisves moet aan ’n reeks spesifieke vereistes voldoen. Die temperatuur, watergehalte en suurvlakke moet gereeld nagegaan en lugvloei moet gereguleer word.
In Knysna sien Louw Claassens, ’n bioloog en lid van die onafhanklike Knysna Basin-projek (KBP), na die seeperdjies om. Die KBP het ten doel om groter bewustheid oor die Knysna-riviermonding te skep, onder meer deur middel van navorsing.
Wetgewing bepaal onder meer dat seeperdjies nie in hul habitat versteur of verwyder mag word nie.
Mense wat met seeperdjies in hul besit betrap word, kan vervolg word en tronkstraf opgelê word.