Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Hitte laat kraaie gaap in O’hoorn

Hittegolftoestande, wat na verwagting nog tot Vrydag in Oudtshoorn sal voortduur, het daartoe gelei dat sommige winkels selfs gesluit het.

’n Waarskuwing vir die hittegolftoestande vandeesweek is deur Oudtshoorn se rampbestuursentrum uitgereik. Na verwagting sal die kwik teen Donderdag tot tussen 42 °C en 47 °C styg. Ligte reën en 29 °C word vir Vrydag voorspel.

Foto: Pixabay

Volgens die Oudtshoorn-munisipaliteit word geen beheerde brande toegelaat nie. Die besluit is op provinsiale vlak geneem en is geldig tot einde Maart.

“Mense moet onthou ons is as ’n droogtegebied verklaar. Nader aan die einde van Maart sal ’n besluit geneem word of beheerde brande in die gebied toegelaat sal word,” sê Ntobeko Mangqwengqwe, ’n munisipale woordvoerder, by navraag.

Op Facebook het die Laerskool Wesbank ouers gevra om vandeesweek genoeg water vir hul kinders saam skool toe te stuur weens die uitermatige hitte.

Nog mense het skertsend op die Facebook-groep Oudtshoorniete Staan Saam gevra “waar hulle kan aansoek doen vir ’n see”.

Woensdag is op Facebook aangekondig dat Solidariteit Helpende Hand in Oudtshoorn se winkel, Ons Winkel, tot Donderdag gesluit sal wees weens die hitte.

“Ons gaap soos kraaie hier,” sê Adele Wright van Helpende Hand in Oudtshoorn.

Volgens haar is die gebou waar die winkel is uitermatig warm en besoek min mense ook die winkel in die hitte.

Verder is op sosiale media ’n beroep op diereliefhebbers gedoen om gevriesde waterbottels (klein of vyfliter) vir Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), ’n dierewelsynorganisasie by die skut vir diere in Oudtshoorn, te skenk om die honde koel te hou. Mense word ook gevra om plastiekswembaddens vir kinders, wat hulle nie meer wil hê nie, aan Odin te skenk.

Ook die Oudtshoorn Dierekliniek het Woensdag op Facebook gevra mense moet seker maak dat hul troeteldiere genoeg koue water het en skaduwee het om in te lê.

Vlak 4-waterbeperkings geld tans in Oudtshoorn.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Hitte  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.