SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Omgewing
Hitte slurp steeds aan noorde se damvlakke

Hoë temperature en reën wat wegbly slurp steeds water op in die belangrike opgaardamme van Gauteng.

Ook damme in Noordwes, Limpopo en Mpumalanga raak al leër.

Die Vaaldam het vandeesweek verder gedaal.

Volgens die departement van menslike nedersettings, water en sanitasie (DWS) het die Vaaldam, van verlede week tot dié week (soos gemeet op Woensdag) van 49,6% tot 47,3% gesak. Damvlakke van die Bloemhofdam het van 81,5% tot 77,6% en die Grootdraaidam van 54,9% tot 53,6% gedaal. Die Sterkfonteindam bly bestendig op 91%.

In Lesotho (wat ook water aan Gauteng verskaf) het die Katsedam van 13,6 tot 13,4% gesak. Die Mohaledam daar het van 32,7% tot 32,6 % gesak.

Só het die Vaaldam vroeër gelyk. Foto: Twitter

Op 30 Oktober was Limpopo se damme 49,9 % vol in vergelyking met 50,5% verlede week.

Noordwes se damvlakke het van 51,9% tot 50,5% gesak en in Mpumalanga is damme nou 58% vol in vergeleke met 59% laas week.

Boere is bekommerd, want dit is nie net besproeiingsdamme wat leegloop nie en gewasse kan nie geplant word nie.

Henk van de Graaf, streekvoorsitter van TLU SA in Limpopo, sê in groot dele van dié provinsie is daar nie genoeg grondvog vir boere om te begin plant nie.

“Droëlandboere word deur ’n ernstige krisis in die gesig gestaar,” het Van de Graaf gesê.

Weiding vir vee- en wildboere is ook skaars. Die bietjie gras wat nog in die veld staan het geen voedingswaarde nie. Veldbrande vroeër die maand het nagenoeg 5 000 ha se weiding in die Waterbergdistrik vernietig.

Warm en droë toestande brand ook nuwe weiding dood in die plekke waar dit wel so ’n bietjie al gereën het, sê Van de Graaf.

“Als is pikswart en niks wil groei nie,” het Van de Graaf gesê.

In die mees noordelike streke van Limpopo raak die winter ook te lank vir boere.

Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, het Maandag 42 °C gemeet op sy plaas in die Levubu-omgewing.

Verder noord na die Krugerwildtuin se kant toe is daar ook nie meer behoorlike weiding vir die wild in die veld nie.

“Ek was twee weke gelede in die wildtuin en daar is beslis wild wat vrek as gevolg van die droogte,” het Havinga gesê.

Hy meen al reën dit nou, sal dit nie genoeg wees om die droogte te breek nie. “Dit moet vir ten minste die volgende drie jaar ordentlik reën,” het Havinga gesê.

Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA, en self ’n boer in Mpumalanga, sê die reën wat wegbly verarm nie net boere nie, maar benadeel voedselsekerheid.

Boere in die provinsie reël gebedsamekomste omdat die optimale planttydperk vir somergraangewasse soos mielies, soja en droëbone amper verby is.

“Boere in die Hoëveld moes al geplant het, maar wag nog dat dit reën,” het Geldenhuys gesê.

As dit nie voor middel November goed reën nie, kan grond nie bewerk word nie.

Geldenhuys sê daar is reeds boere in die provinsie wat astronomiese onkoste aangegaan het om gewasse te hervestig omdat plantjies wat ontkiem het dood geskroei is.

Meer oor:  Vaaldam  |  Droogte  |  Damvlakke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.