Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Hokaai met dié wasgoedwater!
Water uit jou wasmasjien kan nadelig vir plante wees.

Dink twee keer voordat jy jou tuin met gryswater uit jou wasmasjien natlei, want dit is skadelik vir die grond en jou plante sal nie floreer nie.

So sê ’n span grondkundiges van die Universiteit Stellenbosch (US) nadat hulle die eerste omvattende studie tot nog toe oor die effek van gryswater op grondgehalte voltooi het.

Die studie is in die vaktydskrif Journal of Hydrology gepubliseer en is deur dr. Ailsa Hardie van die departement grondkunde in die fakulteit landbouwetenskap gelei.

Dis gegrond op die MSc-navorsingswerk wat deur Ncumisa Madubela, een van die studie se medeskrywers, gedoen is. Madubela het in Maart verlede jaar gegradueer nadat sy in Januarie (2020) die prys vir die beste navorsingsaanbieding deur ’n junior navorser op die jaarlikse kongres van die Suid-Afrikaanse Grondkundevereniging ontvang het.

Dr. Cathy Clarke en Vink Lategan, albei van die US se departement grondkunde, is meewerkers van die studie.

Die hergebruik van wasmasjienwater is algemeen omdat dit groot volumes water lewer en makliker is as om ’n tuin met badwater nat te lei. Volgens die navorsers het hierdie bron van gryswater egter nadele.

Kapenaars het tydens die droogte gryswaterstelsels opgerig om water te hergebruik, maar dit is egter nie tot voordeel van die grond nie.

“Dieselfde chemikalieë in waspoeier wat kolle en vuiligheid uit klere haal, stroop humus uit die grond. Humus is die beste organiese bestanddeel in grond en dra by tot die gesondheid, vrugbaarheid en waterhouvermoë,” sê Hardie.

Weens hierdie “stropingseffek” versprei die kleipartikels en is die grond minder poreus. Dit vorm ’n kors op die oppervlak wat die grond seël.

“Dit maak waterabsorpsie moeilik en is eintlik ’n vermorsing van water,” sê Hardie.

Dieselfde chemikalieë in waspoeier wat kolle en vuiligheid uit klere haal, stroop humus uit die grond. Humus is die beste organiese bestanddeel in grond en dra by tot die gesondheid, vrugbaarheid en waterhouvermoë.

Omdat die grond minder poreus is, belemmer dit ook die waterhouvermoë en tydens droogtes droog dit dus uit en raak toenemend brak en alkalies.

“Plante kan nie in sulke grond floreer nie, en sukkel om water en voedingstowwe op te neem,” sê Hardie.

Die agteruitgang van grond vind plaas vanaf die eerste keer dat dit met wasgoedwater natgelei word. Met verloop van tyd raak dit baie moeilik om dit te rehabiliteer.

In die studie is bevind dat gryswater met waspoeier daarin nadeliger vir grond is as gryswater met ’n vloeibare wasmiddel. Dis weens die verskil in hul chemiese bestanddele.

Die navorsers het grondmonsters afkomstig van Kaapstad en Stellenbosch in hul studie gebruik en bevind dat sommige grondtipes ook vatbaarder is as ander. Sanderige grond, wat sowat 58% van die grond in Kaapstad uitmaak, is die vatbaarste vir die stropingseffek.

Grond met graniet en skalie wat ’n laer ysterinhoud het, is meer geneig om verstop te raak en dit beïnvloed die grondtipe se vermoë om water op te neem en te berg.

Ysterryke rooi- en geelgrond is beter bestand teen dié water, maar bevat steeds ’n te hoë konsentrasie natrium en soute.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.