Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Honderde diere in Marloth Park dalk uitgeskiet
’n Man en sy kleinseun stap in 2019 langs die draad wat die Krugerwildtuin van Marloth Park skei. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Honderde wilde diere sal dalk eersdaags in Marloth Park, ’n residensiële bewaringsgebied in Mpumalanga, uitgeskiet moet word.

“Die diere is besig om te vrek van die honger en die gebied het sy kapasiteit oorskry. Ons het ’n bewaringskrisis,” het Denis Goffinet, voorsitter van die Marloth Park-eiendomseienaarsvereniging, Dinsdag aan Netwerk24 gesê.

Goffinet en ander belanghebbendes soos die Toerisme- en Parkeraad van Mpumalanga (MTPA) het Saterdag ’n zoom-konferensie gehou oor hoe om die krisis opgelos kan word.

Dr. Pieter Kieviet, staatsveearts in die Nkomazi-munisipaliteit waaronder Marloth Park val, sê afgesien van die honger is dit ook ’n bek-en-klouseer-gebied en talle diere ly aan tuberkulose.

“Daar is nie ’n gebied in Mpumalanga wat nié vatbaar is vir albei die siektes nie. Ons kan dus nie die diere elders hervestig nie,” het Kieviet gesê.

Hulle kan ook nie in die Krugerwildtuin, wat aan die park grens, vrygelaat word nie.

’n Ander opsie was om die diere in Lionspruit, ’n reservaat in Marloth Park, los te laat.

Kieviet het egter gesê dit is “net ’n tydelike oplossing vir ’n permanente probleem” en dat die diere uitgeskiet sal moet word.

Daar is glo 74 te veel sebras in Marloth Park. Die foto van ’n ma en haar vul is in 2019 geneem. Foto: Verskaf

Nie almal in die park is egter gelukkig met die oplossing nie.

Cindy Benson, voorsitter van die belastingbetalersvereeniging, sê daar is beslis ’n beter toekoms vir die diere as hulle na Lionspruit geskuif word.

“Lionspruit is onderbenut en daar is meer as genoeg kos vir die diere,” sê Benson.

Volgens haar was die jagters wat diere tot 2017 in die park uitgeskiet het, “roekeloos” en inwoners is amper beseer.

Benson het in 2017 ’n interdik teen die munisipaliteit gekry om te keer dat die diere verder uitgeskiet word.

Die debat sloer nou oor of die interdik steeds geldig is en Benson sê as daar tussen die huise geskiet word, sal sy nie skroom om weer hof toe te gaan nie.

“Ons wil net die beste hê vir ons diere en ons glo dit kan in Lionspruit gebeur. Ons kan die diere op ’n natuurlike manier met voer na die reservaat toe lok. En as hulle dan nou moet uitskiet, kan hulle dit in die reservaat doen en nie tussen die huise nie,” sê Benson.

* ’n Onlangse opname deur die Marloth Park-veldwagters wys daar is ’n oormaat Blou wildebeeste (34), sebras (74), rooibokke (756), volstruise (23), vlakvarke (184), kameelperde (39) en koedoes (127).

Goffinet sê die oormaat is nie noodwendig die aantal diere wat uitgeskiet gaan word nie en dat hulle tans met alle belanghebbendes vergader.

Meer oor:  Krugerwildtuin  |  Wildbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.