Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Hope maak al ogies vir ’n jong bul
Hope, die Oos-Kaapse heldin-renoster, het dalk “liefde gevind” in Limpopo. Foto: Facebook

Die Oos-Kaapse heldin-renoster, Hope, het dalk haar “lewensmaat” in Limpopo ontmoet.

Hope is verlede week na Bela-Bela gebring waar sy ’n operasie sal ondergaan om haar gesig – wat erg onder stropershande vermink is – te genees.

Maar terwyl sy in die nuwe provinsie kamp opslaan, maak sy ook ogies vir die aantreklike renosterbul, #40.

Die span van Onderstepoort se Saving the Survivors-stigting, wat na haar omsien, het vertel hoe dié twee saans met net ’n heining tussen hulle slaap.

“Bedags staar hulle gereeld vir lang rukke na mekaar,” het dr. Gerhard Steenkamp, een van Hope se veeartse, gister gesê.

“Die bulletjie is ook beseer en ek dink die twee geniet mekaar vreeslik. In die Oos-Kaap (in die Shamwari-natuurreservaat) was Hope so van ’n afstand af in ’n verhouding met ’n bul daar, maar dié keer is dit anders. Sy is ontspanne en die twee slaap saans so te sê langs mekaar met net die heining van hul aangrensende bomas tussen hulle.”

#40 het sy been in November verlede jaar gebreek. Hy word ook intussen deur dié stigting versorg.

Volgens Suzanne Boswell-Rudham, woordvoerder van Saving the Survivors, is dié bul ’n redelike “goeie vangs”.

Só lyk #40, wat glo Hope se hart deur die heining probeer steel. Foto: Facebook

“Ons moet bieg: Hope het goeie smaak in mans aangesien #40 ’n aantreklike, sterk jong bul is,” het sy gesê. “Sy eet en drink ook goed, wat ’n goeie teken is aangesien renosters onder spanning dikwels nie wil eet nie.”

Hope, van die Lombardini-reservaat in Jeffreysbaai, se horings is in Mei verlede jaar tot onder haar horingbed uitgekap. Dit vertraag haar genesingsproses.

Sy is kort ná haar aanval na die Shamwari-natuurreservaat waar sy behandeling ontvang het.

Omdat die gat in haar kop te groot is en nie wil toegroei nie, word ’n nuwe behandelingsmetode oorweeg.

Steenkamp en dr. Johan Marais, ook ’n wildveearts, is in gesprek met plastiese chirurge om te kyk hoe hulle kollageenplate kan inplant wat as ’n brug sal dien vir die selle om weer na mekaar te groei en te heg.

“Dis ’n reis wat mens met geduld moet aanpak,” het Steenkamp gesê. “Maar nou wil ons Hope eers ordentlik rustig kry voordat ons met die operasies sal begin.”

Meer oor:  Renoster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.