’n Storm wat Woensdagmiddag noord van Bloemfontein gewoed het, het ’n pad van verwoesting agtergelaat.
Die harde reënbui met stormsterk winde het omstreeks 15:30 oor die Vaalbank-Zuid- en Estoire-hoewegebied uitgesak.
Dakke is om bome verstrengel, groot bome is ontwortel, besproeiingspilpunte is omgewaai, kragdrade is platgevee, woonhuise is erg beskadig en paaie is onbegaanbaar.
Sowat 100 mm reën is gemeet in die storm wat sowat 40 minute geduur het.

Van die bome wat in die storm in Vaalbank-Zuid ontwortel is. Foto: Mlungisi Louw
Mense wat ’n huis in Vaalbank-Zuid huur, moes inderhaas hul vakansie buite Bloemfontein kortknip toe hul huurhuis se dak heeltemal in die storm afgeruk is. Die huise aan weerskante is ongeskonde.
Die huis was onder water nadat die dak afgeruk is en stukke plafon het Donderdag om die huis gelê.
Volgens een van die bure verkeer hulle nog in skok en weet nog nie wat die omvang van die skade is nie.
“Alles het alles so vinnig gebeur. Ons was net besorgd oor die tannie (wat in die huurhuis was) en die diere. Ons wou seker maak hulle is oukei.”
Die buurvrou sê een van die honde is na ’n veearts geneem, maar sy kon nie meer besonderhede oor die dier se beserings verskaf nie. Sy weet ook nie of die vrou in die huis beseer is nie.
Die een oomblik het die son nog geskyn en die volgende oomblik was dit ’n chaos, beskryf Fanie van der Walt van die Estoire-buurtwag die gebeure.

Dié huis se dak het afgewaai. Foto: Mlungisi Louw

Van die dakplate wat Woensdagmiddag van huise in die Vaalbank-Zuid-omgewing afgewaai is. Foto: Mlungisi Louw

Nog ’n huis in Vaalbank-Zuid waarvan die dak afgeruk is. Foto: Mlungisi Louw
Hy sê die strate was onder water, bome is met wortels en al uitgeruk, en die woonkwartiere van werkers van opkomende boere in die gebied is erg beskadig.
“Maar dit is verblydend dat die mense ná die tyd saamgewerk het om bystand te verleen.”
Volgens Van der Walt is groot dele van Estoire en Vaalbank-Zuid sedert Woensdagmiddag sonder elektrisiteit en Centlec, die Mangaung-metro se elektrisiteitsverskaffer, spook sedertien om die kragtoevoer te herstel.
Siyabonga Mpati, weervoorspeller in die Bloemfonteinse weerkantoor, sê minder as 1 mm reën is in die Rosestad gemeet.