Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Impakstudie wemel van foute – CER
Die voorimpakstudie is glo goedgekeur sonder dat behoorlik oorleg gepleeg is

Die Sentrum vir Omgewingsregte (CER) is bereid om regstappe te doen as die regering nie die finale voorimpakverslag vir die Musina-Makhado -spesiale ontwikkelingsone weens “fatale foute” onttrek nie.

Dit is bedoel om ’n omvattende nywerheidsontwikkeling in die dorre Limpopokom te wees.

Die voorimpakstudie is glo goedgekeur sonder dat behoorlik oorleg gepleeg is. Boonop, sê die CER, voldoen dit nie aan die vereistes van ’n voorimpakverslag nie, wemel dit van foute en is dit vol gebreke.

Die CER meen die omgewingskonsultante Delta Built Environmental Consultants moet die verslag om verskeie redes onttrek.

Die sentrum tree op namens Earthlife Afrika en groundWork, organisasies wat hulle beywer vir omgewingsgeregtigheid.

Hulle meen die sone is nie in die openbare belang nie omdat dit ’n “ernstige en onomkeerbare invloed” op die streek se waterbronne, klimaatsverandering, voedselsekerheid en lug- en grondgehalte sal hê, skryf die CER in ’n brief aan die Limpopo- ekonomiese ontwikkelingsagentskap en die provinsiale departement van ekonomiese sake, ontwikkeling, omgewing en toerisme.

Die brief is ook aan Frank Sang, direkteur van die Hong Kong Mining Exchange Company, gerig.

In die voorimpakverslag is aspekte van menseregte ook nie in ag geneem nie, sê die CER.

Die ontleding van watergebruik en -beskikbaarheid “is uiters gebrekkig”. Baie van die gevolgtrekkings wat in die voorimpakverslag gemaak word, is “bloot spekulatief”.

Begin proses van vooraf

Die organisasies eis die proses moet van voor af begin.

Die eerste stap moet wees om ’n strategiese omgewingsimpakstudie te doen sodat die impak van dié projek saam met die omgewings- en klimaatimpak van verskeie steenkoolmyne wat vir die gebied beplan word, bereken kan word.

Die impak op menslike gesondheid is ook nie in ag geneem nie. Steenkoolmyne van MC Mining (vroeër Coal of Africa) wat meer as 104 000 ha gaan beslaan, word vir dié gebied beplan, sê die CER in sy brief.

Simon Matome, woordvoerder van Limpopo se departement van ekonomiese sake, ontwikkeling, omgewing en toerisme, sê die doel is om nywerheidsontwikkeling “op die grens met die res van Afrika” te stimuleer en “duisende werkgeleenthede” te skep.

Die reusenywerheidspark wat beplan word, sluit ’n staalfabriek, petrochemiese aanlegte, steenmakery en ’n dorpsgebied in. ’n Kragstasie wat 3 300 MW sal opwek, word ook beplan.

Besoedelende projekte

Die CER sê “verskeie besoedelende projekte” word beplan wat elkeen ’n baie negatiewe uitwerking op die omgewing en menseregte sal hê.

Nie net ekonomiese aspekte moet oorweeg word nie, maar ook kwessies soos klimaatsverandering en menseregte.

Die sentrum lewer ook skerp kritiek op die opstellers van die verslag wat voorstel dat water wat vir landbou geoormerk is, na die nywerheidspark “geskuif” word.

Stanley Mathabatha, premier van Limpopo, het in Desember op ’n ekonomiese beraad in Johannesburg gesê die Chinese regering het R165 miljard vir die oprigting van die nywerheidstad bewillig.

Ondanks verskeie navrae aan regeringsdepartemente is die voorwaardes van die lening steeds nie bekend gemaak nie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.