Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Insekdoder gee dié spinnekop meer of minder oë

Vir die eerste keer in menseheugenis is misvormde spinnekoppe met meer of minder as agt oë in die Karoo gekry.

spinnekoppe, insekdoder
Hierdie wyfiespinnekop het 13 oë. Van die oë het in die oogkaste verdeel en sommige misvormde oë het heeltemal apart ontwikkel. Foto: SHANNON MITCHELL

Die gebrek waarmee valdeurspinnekoppe van die genus Stasimopus gebore is, is vermoedelik die gevolg van die intensiewe gebruik van onkruid- en insekdoders van 1999 tot 2004 om sprinkaanplae mee te beheer, sê Shannon Mitchell, doktorale student aan die Universiteit van Pretoria.

Hoewel sy ’n baie sterk vermoede het dat die insekdoders vir die spinnekoppe se gebrek verantwoordelik is, sal genetici dié navorsing verder moet voer.

Mitchell het gister gesê sy het saam met die Landbounavorsingsraad navorsing gedoen in die gebied in die Karoo wat vir hidrobreking geoormerk is toe sy op die vreemde spinnekoppe afgekom het.

Normale valdeurspinnekoppe het agt oë, maar dié waarop Mitchell in die Karoo afgekom het, het óf meer óf minder en is boonop misvorm.

Een van die spinnekoppe het 13 oë.

valdeurspinnekop
Die normale oograngskikking van die Stasimopus-valdeurspinnekop. Die spinnekop het agt oë, vier in die voorste ry en vier in die agterste ry.

Volgens haar funksioneer die spinnekoppe oënskynlik normaal omdat hulle nie werklik van hul sig afhanklik is nie, maar wel van meganiese stimulasie.

Dit beteken dat hulle hoofsaaklik gestimuleer word deur die hare­ aan hul pote.

Mitchell se studie vorm deel van die Karoo BioGaps-projek en het ten doel om die biodiversiteit van die Karoo na te vors.

Mitchell sê die insekdoders is destyds gebruik om sprinkaanplae te probeer beheer. Sy kom tot die gevolgtrekking dat die spinnekoppe se gebrek ’n verband het met dit wat in die omgewing gebeur het.

“Ek dink dit is belangrik dat genetici­ voortbou op hierdie navorsing sodat vasgestel kan word wat die invloed van gebeure in die omgewing op die ontwikkeling van die spinnekoppe is,” sê Mitchell.

Dit wil voorkom asof die insekdoder veral die DNS van die spinnekoppe se oë beïnvloed het. Sommige van die spinnekoppe se oë het in die oogkaste in twee verdeel.

Wyfievaldeurspinnekop.
’n Wyfievaldeurspinnekop. Foto: SANBI

Mitchell sê hoewel heelwat navorsing nog gedoen moet word, dien die verandering wat by die spinnekoppe opgemerk is, as waarskuwing teen die gebruik van gifstowwe en waterbesoedeling deur die grootskaalse ontginning van skaliegas.

Mitchell het meer as 500 spinnekoppe in ’n museum ondersoek en hulle vergelyk met dié wat sy in die Karoo gekry het. Die Karoo BioGaps-projek is begin omdat groot infrastruktuurontwikkelings vir die Karoo beplan word, soos hidrobreking en uraanmynbou.

Die projek word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) gelei en deur die Foundational Biodiversity Information Programme van die departement van wetenskap en innovasie gefinansier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.