Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Interpol bal ystervuis vir wildsindikate
Foto ter illustrasie

Interpol, die internasionale polisie-owerheid, het Vrydag ’n nuwe projek aangekondig wat hom in staat sal stel om die netwerke van sindikate wat by georganiseerde omgewingsmisdade betrokke is, te identifiseer, binne te dring en te ontwrig.

Interpol het die naweek in ’n verklaring gesê hy gaan hom aanvanklik toespits op netwerke wat tussen Afrika en Asië bedrywig is. Sindikate wat tussen Afrika en Asië werk, is besig om Afrika se wild, veral olifante en renosters, uit te roei, sê Interpol.

Interpol, met sy hoofkwartier in Lyon, Frankryk, sê met dié inisiatief sal lande wat negatief deur stropery geraak word in ’n groter mate bygestaan word in hul stryd. Dit sal veral lande wees waar olifante, renosters en groot Asiatiese katte voorkom.

Interpol sal hom voortaan ook toespits op ander misdade wat regstreeks aan omgewingsmisdade gekoppel is. Dit sluit in geldwassery, korrupsie en die onwettige handel in vuurwapens.

In ’n verslag wat die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (Unep) in Junie verlede jaar die lig laat sien het, word die waarde van omgewingsmisdade op $258 miljard geskat.

Jürgen Stock, Interpol se sekretaris-generaal, sê dit het noodsaaklik geword dat alle belanghebbendes saamwerk om omgewingsmisdade uit te roei.

Stropery het veral sedert 2010 ’n internasionale krisis geraak met die slagting onder olifante en renosters. Hy wys daarop dat bewaringsbewustes en dierewelsynsaktiviste reeds besef hierdie probleem vereis gekoördineerde en internasionale stappe.

Interpol sê hy besef China is die grootste gebruiker van ivoor.

Volgens die Wêreldbewaringsunie (IUCN) het Afrika se olifantbevolking sy grootste afname weens stropery in die laaste helfte van 2016 getoon. “Die stropery hou aan teen ’n duiselingwekkende tempo van 30 000 olifante per jaar.”

In die laaste agt jaar is rofweg ’n kwart van die wêreld se renosterbevolking in Suid-Afrika gestroop

Interpol meen die renoster vaar nog slegter. ’n Renosterhoring word in die sluikhandel teen tot $60 000 (sowat R816 000) verkoop. Die waarde daarvan is dus meer as dié van goud of kokaïen.

“In die laaste agt jaar is rofweg ’n kwart van die wêreld se renosterbevolking in Suid-Afrika gestroop.”

Cites (die Internasionale konvensie oor die handel in bedreigde spesies) meen die onwettige handel in wild beloop jaarliks sowat $20 miljard. Dit beteken dat dié sluikhandel die vierde grootste onwettige bedryf in die wêreld is, naas die handel in onwettige wapens, dwelms en mense.

Stock sê dit is die mensdom se kollektiewe verantwoordelikheid om die wêreld se wild te bewaar. Hy sê dit is dus Interpol se plig om betrokke te raak.

Tydens dié projek sal Interpol ook teen grootskeepse onwettige visvangste optree. Dié bedryf het die afgelope dekade teen ’n ongekende tempo gegroei.

“Die onwettige vang van vis word ook gekoppel aan mensehandel, waar die bemanning van groot skepe dikwels slagoffers van menseregtevergrype en slawerny word. Hulle moet dikwels dwangarbeid verrig. Dié bedryf word ook gekenmerk deur grootskaalse korrupsie en bedrog wat wettige maatskappye en ekonomieë oneindig baie skade berokken.”

Die projek sal ondersteun word deur USAID (die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling) en die Internasionale konsortium vir die stryd teen omgewingsmisdade waarby wild betrokke is (ICCWC).

Meer oor:  Renosters  |  Interpol  |  Misdaad  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.