Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Interpol kry gesteelde wild, produkte, plante terug

Interpol en die Wêreld Doeane Organisasie (World Customs Organization) het in Junie tydens ’n gesamentlike operasie “massiewe” hoeveelhede lewendige wild, wildprodukte, beskermde edelhout en ander plantspesies teruggekry.

Hierdie wild, wildprodukte, plantspesies asook die edelhout, “wat van elke kontinent” en 109 lande afkomstig is, is teruggekry tydens Interpol se Operasie Thunderball.

Byna 600 mense is tot dusver ook in hegtenis geneem.

Operasie Thunderball is die derde in ’n reeks soortgelyke operasies waartydens duisende fauna en flora wat uit die omgewing gesteel is, teruggekry is.

Interpol het einde verlede week in ’n verklaring gesê tydens dié operasie het die polisie en doeanebeamptes, asook verskillende lande se wetstoepassers wat omgewingsmisdaad ondersoek, smokkelroetes en kriminele brandpunte gevind en ontwrig voordat die produkte in die onwettige mark kon beland. Al die produkte is gekonfiskeer.

Gen. Jürgen Stock, Interpol se sekretaris generaal, het gesê misdaad waarby fauna en flora betrokke is, stroop nie net mense se omgewing van noodsaaklike hulpbronne nie, maar dit is nou verweef met geweld, geldwassery en bedrog.

Die wild wat teruggekry is, sluit vyf lewendige groot katte, 30 primate en ’n klomp dooie seediere in. 25 dooie katte is ook teruggekry. Tussen die onwettige items is ook kledingstukke, skoonheidsmiddels, voedselprodukte, tradisionele medisynes, kunsitems en aandenkings wat uit edelhout gemaak en gekerf is, teruggekry.

Nog inhegtenisnemings en vervolgings sal binnekort volg, lui die verklaring.

Onder die beskermde wild wat teruggekry is, was ook 1 500 lewendige reptiele, 10 000 skilpaaie en seeskilpaaie. Altesame 10 000 stukkies koraal, gedroogte seeperdjies, dooie dolfyne en haaie is ook teruggevind

’n Groot aantal liggaamsdele van katspesies is ook teruggekry, asook 5 renosterhorings, 440 stukke olifanttande en ’n bykomende 545 kg ivoor.

Meer as 4 300 voëls en 2 600 plante is ook teruggekry.

Onder die gekonfiskeerde goedere was 2 550 m³ hout.

Tydens dié operasie is ook 500 kg ietermagogskubbe in Nigerië teruggekry voordat dit na Asië verskeep kon word. Nóg sowat 700 kg skubbe is ook in ander lande gekry.

Interpol het gesê ’n tendens wat tydens Operasie Thunderball opgemerk is, is die voortdurende onwettige verhandeling van wild oor die internet. 21 mense is in Spanje inhegtenis geneem vir die verhandeling van bedreigde spesies oor die internet. In Italië is 1 850 bedreigde voëls teruggekry nadat dit oor die internet verkoop is.

Gen. Jürgen Stock, Interpol se sekretaris generaal, het gesê misdaad waarby fauna en flora betrokke is, stroop nie net mense se omgewing van noodsaaklike hulpbronne nie, maar dit is nou verweef met geweld, geldwassery en bedrog.

“Operasies soos Thunderball is tasbare aksies om transnasionale misdaadnetwerke, wat geldelik voordeel trek uit hierdie onwettige optrede, te ontwrig. Ons sal met hierdie operasies voortgaan en sorg dat daar gevolge is vir diegene wat van ons omgewing steel.”

Ivonne Higuero, sekretaris- generaal van die konvensie oor die handel in bedreigde fauna en flora vir Cites, het gesê dit is noodsaaklik om misdadigers wat lande se veiligheid, lewensmiddele, ekonomië en die volhoubaarheid van die planeet op die spel plaas, vas te trek.

Meer oor:  Interpol  |  Bewaring  |  Wild  |  Omgewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.