Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Jagbedryf oornag op knieë

Covid-19 het die plaaslike jagbedryf op sy knieë gedwing, sê Stewart­ Dorrington, voorsitter van die jagorganisasie Custo­dians of Professional Hunting and Conservation.

Die impak van die virussiekte is vernietigend vir die bedryf, jagtoerisme en ander verwante bedrywe, soos taksidermie.

Dit geld ook die res van Afrika.

Dit het feitlik oornag gebeur omdat jagters nie uit hul land kan reis en ook nie Suid-Afrika kan binnekom nie.

“Dit is ’n ongekende tyd met oneindige onsekerheid. Ons kan nie enige voorbereidings tref nie, want ons weet nie hoe lank die stryd teen die virus gaan duur nie.”

Covid-19 het in ’n administratiewe nagmerrie vir die jagbedryf ontaard.

Sommige jagters van oorsee het die eienaars van wildplase laat weet dat hulle hul deposito wil terughê omdat die onsekerheid te groot is, sê Dorrington. Ander sê weer die wildplase moet die deposito hou totdat dinge verbeter.

“Covid-19 het in ’n administratiewe nagmerrie vir die jagbedryf ontaard,” sê hy.

Volgens Dorrington gaan wildveilings ook “val”.

“Wie sal nou in dié onsekere tyd wild wil koop?”

Wildboere moet hul werkers betaal, maar het geen inkomste nie.

Hy meen in die “nuwe wêreld”, ná Covid-19, gaan die hele jagbedryf waarskynlik ’n gedaantewisseling ondergaan. “As ek ’n voorspelling kan waag, sou dit wees dat trofeejag in die toekoms ’n newebedryf gaan word en dat mense hulle meer op ekotoerisme en dalk natuurfotografie gaan toespits.”

Coira Goss, Dorrington se kollega, sê dié organisasie kon nog nie die ekonomiese impak van Covid-19 op die jagbedryf vasstel nie.

“Ons is nog net besig om ons 183 lede te probeer kalmeer. Ons probeer aan hulle sê hierdie tyd sal ook verbygaan. Maar dit is baie moeilik, want ons is self baie onseker oor die toekoms.”

Wiaan van der Linde

Wiaan van der Linde van Wildbedryf SA het aan Landbouweekblad gesê op 11 Maart was jagplase nog volbespreek vir die volgende twee maande.

Vyf dae later, op 16 Maart, is feitlik al die jagsafari’s afgestel weens die reisbeperkings wat Suid-Afrika en ander lande ingestel het.

Volgens hom is die hele trofeejagbedryf vir vanjaar “so te sê afgelas”.

Hy sê die meeste beroepsjagters wat oorsese jagters moet vergesel, is dié tyd van die jaar “platsak”.

“Al die internasionale jagskoue word in Januarie en Februarie gehou en beroepsjagters het groot bedrae bestee om hulself daar te gaan bemark.

“Ons is veronderstel om nou die vrugte daarvan te pluk.”

Volgens Van der Linde is wildboere bekommerd oor hul vermoë om uitgerekte reisbeperkings te oorleef.

Die Suid-Afrikaanse wildbedryf se jaarlikse omset word op tussen R16 miljard en R20 miljard geraam.

Plaaslike jagters dra sowat R8 miljard daartoe by. Die res van die inkomste is van oorsese jagters.

Meer oor:  Jagbedryf  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.