Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Jagluiperd kry nuwe tuiste in reservaat

’n Jagluiperd wat in aanhouding gebore is, is nou in dieselfde boma in die Oos-Kaap vrygelaat as waar Sylvester die leeumannetjie sy rondloperspore afgeskud het.

Jasmin, ’n vierjarige jagluiperd, is op 29 Augustus by die Kuzuko Lodge-wildreservaat, wat deel vorm van die groter Addo-Olifantpark, vrygelaat.

Sy is die eerste jagluiperd wat deur die organisasie sonder winsbejag, Cheetah Experience Ashia, se nuwe jagluiperd-vrylatingsprogram vrygelaat is.

Ashia, wat by Bloemfontein bedryf word, se nuwe program om jagluiperds in die natuur vry te laat, word van ’n plaas net buite die Paarl bedryf en word Vrydag amptelik bekend gestel.

Jasmin in die boma by die Kuzuko Lodge-wildreservaat in die Oos-Kaap, waar sy as deel van Ashia se jagluiperd-vrylatingsprogram hervestig is. Foto: Verskaf

Jasmin se vrylating is die eerste van nog vele, sê Chantal Rischard, medestigter van Ashia.

“Die jagluiperd is die kat wat die meeste bedreig word in Afrika. Die getal jagluiperds het van 100 000 in 1900 tot onder 7 000 vandag geval.

“Etiese teling in aanhouding het noodsaaklik geword om die langtermynoorlewing en volhoubare genetiese diversiteit van die spesie te verseker,” sê Rischard.

Gegewe die sukses wat Kuzuko met Sylvester, asook die twee leeuwyfies Nicka en Angel gehad het, sowel as die unieke terrein, het Ashia se span dié reservaat as die perfekte vrylatingsgebied gekies.

Sylvester, wat twee keer uit die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes ontsnap het, is in 2016 in Kuzuko hervestig en het sedertdien nog nie weer enige teken gewys van pote wat jeuk nie.

Jasmin smul aan die karkas van ’n vlakvark by haar nuwe tuiste in die Kuzuko Lodge-wildreservaat. Foto: Verskaf

Nicka en Angel is as welpies in die Addo-Olifantpark wees gelaat toe hul ma gevrek het, maar danksy Kuzuko sorg hulle deesdae vir hulself.

“Die rehabilitasie van die twee wees leeuwelpies tot terug in die natuur was ’n groot sukses,” sê Gerhard de Lange, bestuurder van Kuzuko.

Jasmin, wat vier jaar lank by Cheetah Experience Ashia in Bloemfontein was, het in die kort tydjie wat sy in die boma by Kuzuko is, reeds al die regte tekens getoon dat sy goed sal aanpas, sê De Lange.

Jasmin sal binnekort vanuit die boma in ’n 300 ha-kamp vrygelaat word, waar sy op haar eie sal moet jag.

In dié kamp sal Jasmin ook die geleentheid kry om die res van die diere op die reservaat, waaronder die leeutrop, deur die kampheining te ontmoet.

“Die leeus sal haar grootste uitdaging wees. Sy sal tekens van vrees en respek vir die leeus moet toon omdat hulle ’n jagluiperd se grootste natuurlike vyand is.

“Eers wanneer sy wys dat sy versigtig is vir die leeus, op haar eie kan jag, en die ander nodige gedragseienskappe toon, sal ons begin oorweeg om haar uiteindelik in die 15 000 ha-reservaat vry te laat,” sê De Lange.

Hy is ook baie beslis daaroor dat hulle nie sal huiwer om die proses te staak as Jasmin nie die nodige gedrag toon nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.