Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Japan kry bloedneus oor walvisjag
Walvisse op ‘n fabriekskip van Japan. Dié land gee voor, hy vang walvisse om navorsing op hul karkasse te doen. Foto: Twitter

Japan en sy alliansie-vennote is Vrydag bloedneus geslaan toe die meerderheid van die 89 lede van die Internasionale Walviskommissie (IWK) teen die hervatting van kommersiële walvisjag gestem het.

41 lede van die IWK het teen Japan se voorstel gestem, 27 daarvoor en 2 lande het buite stemming gebly.

Die internasionale bewaringsorganisasie Whale and Dolphin Conservation (WDC) het net voor 15:00 Vrydag getwiet: “Japan se voorstel om die verbod op kommersiële walvisjag opgehef te kry, het misluk. Dit is ’n groot dag vir walvisbewaring.”

Phys.org, ’n wetenskapnuusportaal, het berig die Florianópolis-verdrag maak dit duidelik dat walvisjag geen ekonomiese doel het nie.

Luidens dié nuusdiens het harde woorde geval tussen lande wat hul stem verhef het vir die behoud van die moratorium op kommersiële walvisjag en diegene wat die moratorium wil lig om kommersiële walvisjag te hervat.

Brasilië se kommissaris, Hermano Ribeiro, het ná die aanvaarding van die verdrag gesê hy beskou dit as ’n “waardevolle instrument” wat die IWK op die pad vorentoe sal lei.

Verskeie kommissarisse het getwiet die IWK is besig om homself positief in te stel oor walvisbewaring.

Verskeie kommissarisse het getwiet die IWK is besig om homself positief in te stel oor walvisbewaring.

Die IWK is in die verlede dikwels daarvan beskuldig dat hy ’n instelling is wat Japan en sy alliansie-vennote ter wille is en dat hy ten gunste is van die hervatting van kommersiële walvisjag.

Nicolas Entrup van die Switserse bewaringsorganisasie OceanCare het die IWK geprys en gesê dié kommissie is uiteindelik besig om weg te beweeg van “die dodelike uitbuiting van seediere”.

“Welkom in die toekoms,” het hy kort ná die stemmery in ’n verklaring gesê. As Japan se omstrede voorstel van “volhoubare walvisjag” aanvaar is, sou dit beteken die moratorium wat reeds 32 jaar geld en kommersiële walvisjag verbied, sou opgehef word.

Japan wou volgens Entrup die IWK weer eens “gyselaar” hou. Japan het die moratorium die afgelope 32 jaar omseil deur voor te gee hy doen wetenskaplike navorsing op walvisse. Dié navorsing is telkens afgemaak as ’n grap en ’n klap in die gesig van wetenskaplikes.

Volgens OceanCare het Japan se voorstel vir die hervatting van kommersiële walvisjag die afgelope tien dae erg onder skoot gekom deur lande soos Australië, Nieu-Seeland en Indië.

Boonop is van die lidlande bekommerd dat Japan die IWK sou verlaat. Teen laat Vrydag was daar nog geen aanduiding daarvan nie.

Volgens Entrup sou die opheffing van die moratorium beteken dat die internasionale handel in walvisprodukte hervat kon word. Die verbod op die handel van dié walvisprodukte is baie waardevolle bewaringsinstrumente. “Ons is nou baie naby daaraan om dit eens en vir altyd uit te roei. Ons is verlig dat die verbod nou gehandhaaf word.”

Dié oorwinning vir walvisbewaring volg ’n dag nadat ’n voorstel om ’n walvisbewaringsgebied by Antarktika te vestig met ’n meerderheidstem deur Japan en sy alliansie-vennote verwerp is.

Meer oor:  Iwk  |  Japan  |  Walvisse  |  Walvisjag  |  Omgewingsbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.