Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Jong jakkals nét betyds uit strik gered

* Waarskuwing: Grafiese foto’s

Steven Chinthaka en James Misomali by die rooijakkals in die honde-drahok nadat hulle haar al die pad deur die bosse tot by die voertuig gedra het. Foto: Dirk Engelbrecht /WildServe
Steven Chinthaka het die foto vir Leanne Hezlett gestuur terwyl die redders op pad was, om die jakkals se situasie te probeer verduidelik. Die rooi pyle is later aangebring om aan te toon hoe die strik gespan word.Foto: Steven Chinthaka

Nie eens slinkse jakkalsdraaie kon die stroperstrik fnuik nie.

Pootuit en weerloos gespartel vir asem, kon die rooijakkals (ook bekend as ’n swartrugjakkals) nie eens probeer koes toe twee mans Vrydag net voor 08:00 deur die bosse op haar afkom nie.

As sy in daardie stadium kon, sou die wurgende dier ’n sug van verligting geslaak het: Steven Chinthaka en James Misomali is nie stropers nie.

Hulle het net vuurmaakhout kom soek in die bosse duskant Hartbeespoort.

Nog ’n bonus was dat hulle werk by Dog Town SA, ’n dierereddingsorganisasie enkele kilometer verder in Schuverberg.

Hulle het vir Elanza Kloppers, Dog Town SA se sentrumbestuurder, gebel.

“Hulle het gesê daar is ’n dier in ’n vangstrik en die draad sny dit en hulle is bang die stropers kom terug.

Met ’n stuk van die draadstrik vasgebind aan ’n jong boom, maak Dirk Engelbrecht seker die jakkals se tande bly uit die pad terwyl hulle haar probeer help. Foto: Dirk Engelbrecht /WildServe
Leanne Hezlett, Pretoriase streeksbestuurder van die SAWRC, probeer die styfgetrekte strik om die dier se nek loskry.Foto: Dirk Engelbrecht /WildServe
Die beseerde jakkals word met ’n kombers toegegooi en stilgehou nadat hulle haar beweging met ’n vangpaal kon beperk.Foto: Dirk Engelbrecht /WildServe

“Ek het ‘wildlife rescue’ ge-Google en op Judy Davidson-Grose van South African Wildlife Rehabilitation Center (SAWRC) se nommer afgekom,” vertel Kloppers.

So lyk die bosse waar die redders moes ingaan om die jakkals te red. Foto: Dirk Engelbrecht /WildServe

Davidson-Grose is in Springs geleë, te ver van die jakkalsnoodgeval om dit betyds van ’n wrede dood te red.

Davidson-Grose het vir Leanne Hezlett, Pretoriase streeksbestuurder van die SAWRC, en Dirk Engelbrecht van WildServe gebel.

Hezlett vertel hulle was nie presies seker waarheen om te gaan nie. Die jakkals was volgens rigtingaanwysings “letterlik” in die middel van niemandsland.

Chinthaka het egter die meer as ’n kilometer deur die bosse na die pad gestap om Hezlett en Engelbrecht in te wag.

Misomali het by die jakkals agtergebly, ingeval die strikstellers terugkom.

Dit was omtrent twee uur sedert die mans die dier gevind het dat Hezlett-hulle verby ’n man gery wat “bly beduie met so ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig en ’n foon in sy hand”.

Dit was Chinthaka.

“Ons het sover as moontlik met die voertuig die bosse ingery, en toe met ons toerusting, insluitende ’n honde-drahok, verder gestap,” sê Hezlett.

Diep in die bosse het hulle vir Misomali, steeds aan die jakkals se sy, gekry.

“Dit was ’n jong jakkals met haar nek in ’n gly-lus. Dis gemaak van kabeldrade, vasgebind aan klein boompies.

“Die jakkals se kop was heeltemal vasgetrek teen ’n boom. Sy het nie eens meer gestoei nie,” sê Hezlett.

Dr. Clare Speedy heg die gapende wond met steke nadat dit skoongemaak is. Foto: SAWRC
Die draadlus waarin die jong jakkals se nek vasgevang was.Foto: SAWRC

Hulle het besef ’n “honde-vangpaal” is nodig om die jakkals stil – en die tande ver – te hou, sodat hulle haar kan help.

Dog Town het blitsig een gestuur.

Die jakkals het geen weerstand gebied nie, nie eens ’n sweempie van die kenmerkende weengeluid nie.

Hierna kon Hezlett die dier vashou terwyl Engelbrecht die “skerper kant” toebind.

“Ek en Dirk het gevoel na die draadlus om haar nek. Dit was so styf, ons kon nie ’n vinger inkry sodat dit skiet gee nie. Ons moes die drade waarmee die strik aan die boompies vasgemaak is, losknip,” verduidelik Hezlett.

Die jakkals se keel was van bakoor tot bakoor oopgekloof, die draad tot teen haar slukpyp ingekou.

Hierdie was nie iets wat Moeder Natuur self sou kon genees nie. ’n Veearts sou moes help.

Die beseerde jakkals is in die honde-drahok getel.

Chinthaka en Misomali het dit uit hul eie op hul skouers getel en deur die bebosde berge-en-dale-pad na die voertuig gedra.

“Die twee was fantasties. Sonder hulle sou daardie jakkals beslis gevrek het. As daardie draad nog ’n aks gesny het, was dit deur die hoofslagaar en sou sy doodgebloei het,” sê Engelbrecht.

Dit was al ná 13:00 toe die span by die groot pad uitkom.

Die jong rooijakkals lê met haar verbinde nek in ’n hok by die veearts nadat sy behandel is.Foto: SAWRC

Hezlett het begin rondbel vir ’n veearts.

Dr. Clare Speedy van die Lammermoor-dierekliniek in Muldersdrift was bereid om te help.

Hier is die jakkals verdoof en haar nekpels geskeer.

“Met die hare weg, kon jy die hoofslagaar sien klop, so naby het die draadstrik daaraan gesny. Steven en James haar net betyds gevind,” vertel Hezlett.

Teen Maandag het die veearts laat weet: Die pasiënt beweeg en eet.

Kloppers sê Chinthaka en Misomali verneem gereeld na die jakkals se welstand.

Hezlett voeg by: Chinthaka het die jakkals sy WhatsApp-profielfoto gemaak.

Meer oor:  Stropers  |  Wildbewaring  |  Diere  |  Natuurbewaring  |  Wild
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.