Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Jy kan nou jong seeskilpad op sy roetes in oseaan volg

Die publiek sal die bewegings van ’n jong seeskilpad vir bykans twee jaar lank op die internet kan volg.

Gereed vir die vrylatingsoperasie is van links Robbie Francis, eienaar van die Stampede Cruises-boot, Ruth Wright, ’n kurator van die Bayworld-oseanarium, Akhona Mlondi, ’n hulpdiensbeampte van Bayworld, en Michael van Tonder, ’n akwaris van Bayworld. Wright hou vir Aloe vas en Oliver is in die krat. Foto: Cara-Lee Dorfling

Oliver, ’n karetskilpad, is Woensdag deur die Bayworld-oseanarium by die St. Croix-eiland in Algoabaai met ’n satelliet-opsporingstoestel aan sy dop vrygelaat.

“Elke keer wanneer die seeskilpad na die bodem swem, sal ’n sein na die satelliet gestuur word en ons kan dus die bewegings dophou,” het Ruth Wright, kurator van die Bayworld-oseanarium in Port Elizabeth, gesê.

Oliver, wat sowat tien jaar oud geskat word en 32 kg weeg, word volgens Wright as ’n jong volwassene beskou.

Sy sê min inligting is beskikbaar oor die bewegings van jong karetskilpaaie langs die Suid-Afrikaanse kus en die opsporingstoestel is ’n eerste vir Bayworld om meer inligting oor dié seeskilpaaie se jong lewe te bekom.

“Ons weet die skilpaaie vertoef ’n rukkie in die baai (Algoabaai) om te vreet, maar ons is onseker waarheen hulle dan beweeg.

“Die skilpad is nog te jonk om te paar of eiers te lê. Dit sal nog ’n paar jaar wees voordat dit gebeur. Ons is onseker waarheen hulle in dié tussenjare gaan.”

Karetskilpaaie broei tussen die ouderdom van 20 en 30 jaar, met hul naaste broeistrand in Suid-Afrika by Bhanganek in die noorde van KwaZulu-Natal.

Akhona Mlondi, ’n hulpdiensbeampte van die Bayworld-oseanarium, dra vir Oliver, die gerehabiliteerde karetseeskilpad, na die boot in die hawe. Foto: Cara-Lee Dorfling

In Desember het die oseanarium hul eerste gerehabiliteerde groenseeskilpad met ’n soortgelyke satelliet-opsporingstoestel vrygelaat. Die resultate van dié groenseeskilpad se bewegings was ver van die verwagte roetes, sê Wright.

Oliver het in 2015 by Kidds-strand in Oos-Londen uitgespoel, waar hy tot Desember in die Oos-Londense akwarium aangesterk het. Hy is daarna vir verdere rehabilitasie na Bayworld gebring.

Wright hoop nou om ook aangenaam verras te wees wanneer hulle Oliver deur sy opsporingstoestel ter waarde van R38 500 volg. Die departement van omgewingsake en Bayworld se sentrum vir navorsing en opvoeding (BCRE) het die toestel geskenk. Die toestel se battery sal sowat 24 maande kan hou, waarna dit oor ’n paar jaar van sy rug sal afval soos sy dop groei.

’n Gerehabiliteerde groenseeskilpad, Aloe, is Woensdag saam met Oliver vrygelaat. Aloe is in Desember na Bayworld gebring nadat hy op ’n strand in Jeffreysbaai gestrand het.

“Aloe kon nie duik nie, hy het net in die branders rondgetuimel. Gedurende die rehabilitasieproses moes ons vasstel wat die lug onder die dop veroorsaak, sodat hy weer normaal kan eet, duik en swem.

“Gewoonlik neem dit ’n hele paar maande, maar met Aloe was ons gelukkig om hom so gou te kon rehabiliteer.”

* Oliver kan van volgende week af hier gevolg word.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Seeskilpad  |  Oseaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.