Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kaap staal hom vir yslike kouefront

Die Kaapstadse metroraad is op ’n gereedheidsgrondslag geplaas vir die sterk kouefront wat Donderdag en Vrydag verwag word, met swaar reën en ’n noordwestewind van tot 70 km/h wat in Kaapstad verwag word.

’n Sterk kouefront beweeg in die rigting van die Wes-Kaap en sal na verwagting teen Donderdagoggend stormsterk wind en swaar reën, met moontlike oorstromings, veroorsaak. Dié satellietfoto is Woensdag deur die SAWD uitgereik. Foto: SAWD

Inwoners is gewaarsku om hulle op skade aan hul woning voor te berei en op ontwortelde bome wat vervoerroetes en kragtoevoer kan raak.

Sterk tot stormsterk noordwestelike winde behoort al teen Woensdagaand en deur die volgende oggend aan die suidkus en binneland van die Wes-Kaap voor te kom. ’n Windspoed van 65 km/h tot 80 km/h word voorspel, met rukwinde wat 90 km/h kan oorskry.

Teen Sondag is daar nog ’n 30%-kans op reën in Kaapstad, die Paarl, Langebaan, Hermanus, Grabouw en Clanwilliam.

Charlotte Powell, woordvoerder van Kaapstad se rampbestuursentrum, het Woensdag ook gewaarsku oor “baie rowwe seetoestande” wat met die springgety saamval en gevra dat mense van die kus af wegbly.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê ’n intense kouefront sal na verwagting teen Donderdagoggend die Suidwes-Kaap tref, met verwagte reënval van 25 mm tot 40 mm en selfs meer as 50 mm in bergagtige dele.

Dit kan tot oorstromings lei en motoriste is gewaarsku om nie te ry op paaie wat oorstroom is nie. Mense is ook aangeraai om nie riviere te probeer kruis op pad na die werk of skool nie, selfs al lyk dit veilig.

Die Weerdiens het ’n ernstige waarskuwing uitgereik oor stormsterkwinde van 65 km/h tot 75 km/h wat Donderdag langs die kus tussen Kaap Columbine en Kaap Agulhas verwag word en oornag na verwagting sal bedaar.

Swaar reën word ook Donderdag en Vrydag oor die Kaapse Wynland, die westelike dele van die Overberg en die Weskus verwag.

In die Sentraal-Karoo en Eden-distrik is daar Donderdag ook ’n uiters hoë brandgevaar weens die sterk wind. Oor die Suid-Kaap word bewolkte weer verwag, terwyl verspreide reënbuie in Laingsburg en Beaufort-Wes kan voorkom.

Vrydag is daar ’n 30%-kans op reënbuie oor die grootste deel van die Suid-Kaap, met gedeeltelik bewolkte weer in die Klein-Karoo.

In die Oos-Kaap word daar ook vir Donderdag sterk noordwestelike winde voorspel, met rukwinde van tot 80 km/h in die westelike en noordwestelike binneland. ’n Waarskuwing oor uiters hoë brandtoestande is uitgereik.

Teen Vrydag is daar ’n 30%-kans op reënbuie in Port Elizabeth, Plettenbergbaai, Joubertina en Graaff-Reinet.

Die volgende noodnommers kan in die Wes-Kaap gebel word:

* Langeberg-munisipaliteit: 0860 88 1111

* Eden-distrik: 044 805 5071

* Sentraal-Karoo: 023 414 2603

* Weskus: 022 433 8700

* Overberg: 028 271 8111

* Kaapstad: 107 (landlyn) of 021 480 7700 (selfoon).

Wenke vir oorstromings

1. Monitor waarskuwings oor oorstromings in jou gebied en vermy oorstroomde gebiede.

2. Moenie die krag van die vloedwater onderskat nie, selfs al is jy in ’n voertuig.

3. As ’n gebou oorstroom, skakel die krag af en neem jou selfoon saam met jou.

4. Bied bystand aan bejaarde en gestremde bure.

5. Wag tot die watervlak gedaal het voordat jy jou huis binnegaan.

6. Wees versigtig vir waterbronne wat besmet kon word en onveilig is om te drink.


Meer oor:  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.