Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kameras help keer dat voëls in kragdrade vasvlieg
Die sogenaamde voëlopsporingstelsel (’n hoëresolusiekamera wat beweging en ook voëls kan bespeur) word nou deur die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) in samewerking met Eskom in De Aar in die Noord-Kaap getoets.Foto: Verskaf

Kameras in die Noord-Kaap sal voortaan help voorkom dat voëls in kraglyne vasvlieg.

Die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) in samewerking met Eskom het twee spesiaal ontwerpte kameras aan ’n kragdraad in De Aar opgerig om vas te stel hoekom en wanneer voëls in die kragdrade vasvlieg.

Constant Hoogstad van die EWT sê dié bedreiging sal terselfdertyd verminder word.

Die sogenaamde voëlopsporingstelsel, die Bird Detection System (BDS), is ’n Suid-Afrikaanse konsep waar ’n hoëresolusiekamera die vermoë het om beweging en voëls te bespeur.

Dit is ontwerp nadat die EWT ’n behoefte aan ’n bekostigbare, veelsydige produk uitgespreek het wat die organisasie sal help in hul navorsing oor dié botsings.

Ná drie jaar se harde werk, toewyding en toetse is dié produk onlangs vir die eerste keer in die natuur op die proef gestel.

Die stelsel, wat met sonkrag werk, is die eerste regstreekse stelsel wat data soos video’s en foto’s direk na ’n gebruiker se foon of na ’n databank kan stuur met die inligting wat dan reguit op cloud gestoor kan word.

Dit stel spanlede in staat om voëls te tel, spesies te identifiseer en voëls se gedrag waar te neem.

Die sagteware en stellings kan ook van ’n afstand só ingestel word dat instandhouding in die veld nie nodig is nie, terwyl die kamera homself uurliks nagaan en elke 24 uur ook self herlaai.

Hoogstad sê die kamerastelsel is so ontwerp dat dit volgens die gebruiker se behoeftes aangepas kan word en ook in omgewingsimpakstudies deur spesialiste as ’n hulpmiddel vir opnames gebruik kan word.

“Tydens monitering van die kragdrade in De Aar het daar in afgelope agt jaar 731 voëls, waarvan die meeste bloukraanvoëls is, gevrek.

“Ons het vir twee jaar gemonitor sonder dat die kragdrade enige merkers op gehad het en toe gevind dat ’n gemiddeld van 140 voëls per jaar teen die drade vasvlieg. Nadat ons die drade gemerk het, het die gemiddeld gedaal tot 90 voëls per jaar, wat aandui dat die merkers werk.”

Die merkers waarna Hoogstad verwys, is plaatjies op die kragdrade wat sigbaar is vir voëls.

Volgens hom werk die merkers baie goed vir bloukraanvoëls. “Hulle botsings het met 65% teen gemerkte drade afgeneem. Ongelukkig is die Ludwig se poue nie so gelukkig nie en die navorsing dui aan dat die merkers hulle baie min helpeffek op het om botsings met kragdrade te vermy.”

Dié bruinerige poue, anders as hul mak, uitheemse en flambojante nefie, is ’n bedreigde spesie.

Volgens hom is De Aar die ideale plek om die kamerastelsel te toets weens die hoë sterftesyfer.

“Dit sal ons staat stel om inligting in te win oor watter tyd van die dag of nag hierdie botsings plaasvind, wat die weerstoestande was tydens die botsings en die gedrag van die betrokke voël voordat dit teen die kragdraad vasgevlieg het. Bowenal sal dit ons groter insig gee oor wat die botsings veroorsaak en ons toelaat om doeltreffender maniere te soek om dit te verminder.”

Hoogstad sê die kameras sal naderhand by ander plekke in die land ook opgerig word.

“Ons sal wil sien wat die bydraende toestande tot die botsings is. Die kanse is baie goed dat dit sal verskil van spesie tot spesie.”

Aasvoëls, flaminke en sekretarisvoëls vlieg ook in die kragdrade vas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.