SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Omgewing
Kanse vir reën ‘baie beter’ ná hittegolf
Christo Stander (12 maande) steek sy handjie uit asof hy vra vir reën. Anja, sy ma, het die naweek dié foto op ’n plaas net buite Bloemfontein geneem. “Ons was verstom oor hoe droog dit is,” sê sy. “Ek het die oomblik vasgevang waar my seuntjie sy handjie in die lug steek, asof hy die Here vra vir reën.” Sy sê dis hartseer om die reëntekens te sien, maar dan val daar nie ’n enkele druppel nie. Foto: Anja Stander

Met die hittegolf wat begin wyk, lyk die voorspellings vir reën in die sentrale binneland heelwat beter vir die res van die week as verlede week.

So sê Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou.

Dit lyk volgens hom asof die hittegolf Dinsdag iets van die verlede sal wees en kan plek maak vir reën.

Daar is ’n vinnige verandering in die voorspellings van redelik negatief tot redelik positief.

“Voorspellings vir reën oor die grootste deel van die Vrystaat, Noordwes en ooswaarts het heelwat verbeter vir die res van die week. Enkele buie kan ook in die oostelike dele van die Noord-Kaap voorkom.”

Hy voorspel min of geen reën oor die sentrale tot westelike dele van die Noord-Kaap, asook die hele Oos-Kaap.

Veeboere het baie min kos oor vir vee en reën sal baie help om veldherstel te laat begin.

Die reën sal verwelkom word deur veral graanboere in streke soos die Oos-Vrystaat wat al reeds moes plant en nog nie kon nie, terwyl dit in die sentrale tot westelike dele van die Vrystaat, asook Noordwes, nou die gunstigste planttyd is.

“Veeboere het baie min kos oor vir vee en reën sal baie help om veldherstel te laat begin.”

Reën het reeds Sondag begin voorkom oor die noordelike dele van Namibië wat ’n baie goeie teken is, sê hy.

“Die Suidooster het sterk in die Kaap begin waai wat ook ’n aanduiding is van die ontwikkeling van gunstige stelsels vir reën oor die binneland.”

Kevin Ingram van die Bloemfonteinse weerkantoor bevestig dat die Vrystaat, Noordwes en oostelike dele van die Noord-Kaap van Dinsdag gaan reën kry.

Dit sal tot Vrydag voortduur.

Volgens Ingram kan dit ook in die sentrale deel van die Noord-Kaap reën. “Ons verwag ongelukkig nie baie reënval in dié deel nie, maar die oostelike dele kan tot so 10 mm kry.”

Die Oos-Vrystaat en Noordwes kan volgens hom van Woensdag tot Vrydag met tye tussen 10 mm en 20 mm ontvang.

Die afgelope naweek het die meeste dele nie meer as 1 mm reën gekry nie.

Bloemfontein, Vaalharts en Kathu het elk 1 mm gekry, terwyl 5 mm by Kuruman gemeet is.

Volgens Ingram verswak die hittegolf se greep nou oor die meeste dele van die binneland.

“Net die noordoostelike dele van Noordwes sal steeds Dinsdag ’n hittegolf beleef.”

Meer oor:  Johan Van Den Berg  |  Klimatoloog  |  Reën  |  Hittegolf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.