Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Karkas van seldsame luiperdrob op strand in PE gevind

Die karkas van ’n luiperdrob wat op ’n strand in Port Elizabeth aangetref is, was waarskynlik maar die negende rob van dié spesie wat in die laaste 70 jaar aan die Suid-Afrikaanse kus gesien is.

Die luiperdrob se naaste natuurlike tuiste is sowat 4 000 km weg in die ysige waters by Antarktika.

Die vrek luiperdrob wat Woensdag op die Kaap Recife-strand in Port Elizabeth aangetref is. Foto: Yvonne Sanders

Dr. Greg Hofmeyr, ’n mariene bioloog verbonde aan die Bayworld-oseanarium, sê hy was maar skepties toe die oproep Woensdag deurkom van ’n luiperdrob wat op die Kaap Recife-strand gesien is.

“Ek het nie gedink dit sal werklik ’n luiperdrob wees nie. Hulle is uiters skaars hier aan die Suid-Afrikaanse kus,” sê hy.

Hoewel Hofmeyr al voorheen op Marion-eiland ’n luiperdrob gesien het, was dit die eerste keer dat hy een op eie bodem gesien het.

“Dit is werklik besonders. Dit is jammer hy leef nie meer nie, maar die karkas was nog baie vars. Hy is dus nie te lank vrek nie.”

Die Bayworld-oseanarium in Port Elizabeth het die luiperdrob se karkas gevat vir navorsing. Foto: Yvonne Sanders

Volgens rekords wat tot 1946 teruggaan, is daar nog net agt keer ’n luiperdrob aan die Suid-Afrikaanse kus aangemeld.

Voor Woensdag was die laaste een minder as ’n jaar gelede op die Milnerton-strand in die Wes-Kaap.

Dié rob het in Augustus by die Kaapse strand aan land gekom voordat hy later weer koers gekies het see toe. Voor dit is ’n luiperdrob in 2014 op ’n Oos-Londense strand gesien.

Hofmeyr sê die jong bul wat Woensdag op die strand gevind is, het ’n klein sny op sy rug, asook ’n paar bytmerke aan die sy. Hy dink nie dit was ’n haai nie, maar eerder ander robbe wat hom aangeval het. Hy dink ook nie dit het sy dood veroorsaak nie, omdat die wonde taamlik gesond lyk.

Dié rob was duidelik ondervoed en in ’n swak toestand. Dit kon sy einde beteken het. Dié soort robbe leef hoofsaaklik van kril en pikkewyne rondom Antarktika.

Hofmeyr sou Donderdag ’n nekropsie doen om te probeer vasstel waaraan die dier gevrek het en sê elke karkas wat aan die kusgebied gevind word, bring hulle ’n stap nader om te verstaan waarom die diere hier beland.

• Mense wat ’n rob, walvis of dolfyn op die strande raakloop, word gevra om Bayworld onmiddellik by 071 724 2122 te bel.

Meer oor:  Antarktika  |  Port Elizabeth  |  Strand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.