Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Katastrofiese gevolge vir Mauritius ná oliestorting
’n Bo-aansig van die wortelbome wat met olie bedek is. Foto: Reuters

Sommige koraalriwwe leef al eeue lank aan die rand van Mauritius. Nadat hulle nou vir dae in swaar brandstofolie van ’n gestrande Japannese olietenkskip gesmoor is, is dele van die riwwe in gevaar.

Die volle impak van die giftige oliestorting ontvou nog, het wetenskaplikes gesê. Terwyl die inwoners van dié eiland in die Indiese Oseaan skarrel om die oliestukkies en -klonte op te ruim, sien hulle dooie palings en visse wat in die water dryf, terwyl oliedeurdrenkte seevoëls na die strand strompel.

Satellietbeelde wys ook hoe 1 000 ton gestorte olie noordwaarts langs die kuslyn in die seeskilpad-waters van die Blue Bay-marienepark versprei.

Volgens wetenskaplikes kan dit nog vir dekades ’n impak hê op Mauritius en sy ekonomie, wat van toerisme afhanklik is.

’n Deel van die MV Wakashio-olietenkskip wat op ’n koraalrif langs die kus van Mauritius beland en tonne olie in die see laat stort het.Foto: Reuters

“Dié oliestorting het in een van die sensitiefste gebiede, indien nie dié sensitiefste nie, in Mauritius plaasgevind,” het die oseanograaf en omgewingsingenieur Vassen Kauppaymuthoo per telefoon gesê waar hy die ramp op die eiland ondersoek. “Ons praat van dekades wat nodig is om van die skade te herstel, en sommige sal moontlik nooit herstel nie.”

Die plant- en dierelewe wat in gevaar is, sluit die seegras in wat in die vlak water soos ’n kombers is, met visse wat tussen die koraalriwwe swem en wortelbome langs die kuslyn met hul verstrengelde wortelstelsels, en die kritiek bedreigde pienk duif, endemies aan die eiland.

Reuse-skilpaaie loop ook stadig deur die natuurreservaat op die nabygeleë eilandjie, Ile aux Ai­grettes, waar daar ook ’n wetenskaplike navorsingstasie is. In die Blue Bay-marienepark is 38 soorte koraal en 78 visspesies.

Die storting bring ’n “reuse-gifskok na die stelsel,” het Adam Molan, omgewingswetenskaplike van Mauritius wat aan die Keele-Universiteit in Brittanje klasgee, gesê. “Dié olie sal ’n menigte gevolge op die web van lewe hê.”

Die oliestorting kom van die olietenkskip, die MV Wakashio van Japan, wat op 25 Julie op ’n rif in die marienepark beland het. Dit is nog nie duidelik hoekom dit so naby aan die kus gevaar het nie. Olie het ná sowat ’n week uit die gekraakte vaartuig begin sypel.

Die uitvloei van die olie is gestop, het owerhede gesê, nadat hulle die oorblywende olie in die skip uitgepomp het.

Die skip se eienaar, Nagashiki Shipping, het gesê hy sal sy verantwoordelikheid nakom en die vergoeding vir die ramp bepaal.– Reuters

Die MV Wakashio-olietenkskip wat op ’n koraalrif aan die kus van Mauritius beland het en duisende tonne olie in die see laat beland het.SFoto: Reuters

Meer oor:  Mauritius  |  Oliestorting  |  Olietenkskip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.