Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kataza kry dalk in Limpopo nuwe huis

CapeNature oorweeg ’n aansoek van die Kaap de Goeie Hoop-Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Kaapstad om die bobbejaanmannetjie Kataza na ’n wildrehabilitasiesentrum in Limpopo te verskuif.

Die DBV maak al maande lank voorspraak hiervoor sodat Kataza “eers gerehabiliteer kan word” voordat hy weer in die natuur vrygelaat word.

Kataza se strooptogte op huise duur glo voort.

Hy is in Augustus verlede jaar van sy trop in Kommetjie na Tokai verskuif, maar nadat hy nie suksesvol daar met ’n nuwe trop kon inskakel nie, is hy in November na Kommetjie teruggebring.

Die DBV het Dinsdag ’n aansoek by CapeNature ingedien vir ’n permit om Kataza, ook bekend as SK11, te vang en na die Riverside-wildrehabilitasiesentrum in Limpopo van die primatoloog Bob Venter te verskuif. 

“Ons het nog geen antwoord van CapeNature gekry nie,” sê Belinda Abrahams, woordvoerder van die DBV. 

Petro van Rhyn, woordvoerder van CapeNature, het bevestig die aansoek is ontvang en word hersien.

Luidens ’n verklaring van die DBV volg die aansoek op ’n dringende vergadering op 5 Januarie met die Kaapse metroraad oor Kataza se welstand en strooptogte.

Die DBV sê hy het reeds in Oktober 2020 aan die metro voorgestel dat Kataza na Riverside geneem word. Die DBV voel dit is in die beste belang van Kataza, ander diere en die breë publiek. Die DBV het aangebied om alle koste te dra.

Volgens die DBV was die Kaapse metro nie te vinde vir die voorstel nie en is Kataza na Kommetjie teruggeneem. Hy het egter nie by sy ou trop ingeskakel nie en sy strooptogte het toegeneem.

Kataza
Kataza die bobbejaanmannetjie. Foto: Kaap de Goeie Hoop-DBV

Die DBV sê in die verklaring hy was altyd van mening dat Kataza se strooptogte sou voortduur mits hy nie gerehabiliteer word voordat hy weer in die natuur vrygelaat word nie.

Indien CapeNature die permit toestaan, sal Kataza by Riverside stelselmatig by ’n nuwe trop inskakel en gerehabiliteer word alvorens hy in die natuur vrygelaat word.

Die Kaapse metro sê in ’n verklaring Kataza word tans gemonitor.

Alles moontlik word gedoen om hom uit woongebiede te hou.

Die metro staan nie die aansoek teen om Kataza na die rehabilitasiesentrum te verskuif nie. Die metro sê Kataza het die afgelope paar dae probeer om terug Tokai toe te gaan, maar het nog nie by dié trop uitgekom nie. 

Kataza het die afgelope agt weke tussen die gebied by Kommetjie, Ocean View, Da Gamapark en Capri beweeg.

Sedert 12 November was daar verskeie berigte van Kataza wat huise binnegaan waarin mense is en in vullisblikke krap. In een geval het hy iemand aggressief agternagesit op soek na kos. 

Die afgelope twee weke was hy in die omgewing van die Long Beach Mall in Noordhoek en het hy hierna na Da Gama en Tokai beweeg.

Meer oor:  Bobbejaan  |  Omgewing  |  Kataza
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.