Die bobbejaanmannetjie Kataza het nog nie sy streke laat staan nie en die Kaapse metroraad is bekommerd oor sy strooptogte nadat hy nie met sy ou Slangkop-troep in die Kommetjie-omgewing kon integreer nie.
Kataza, oftewel SK11 soos hy by die Kaapstadse metro bekend staan, is in Augustus na Tokai verskuif en toe weer in November teruggebring na die Kommetjie-gebied.
Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing van die Kaapse metroraad, sê Kataza se strooptogte het nog nie geëindig nie en hy word die hele tyd gemonitor.

Kataza, die mannetjiebobbejaan. Foto: Verskaf
“Hy het al by verskeie huise op vullisdromme toegeslaan en het ook al iemand agtervolg vir kos. Die afgelope twee weke het hy lank in die Long Beach Mall-omgewing in Noordhoek gebly,” sê Niewoudt.
Hy het ook van Capri na Da Gama verhuis en by geleentheid probeer om Ou Kaapse Weg in die rigting van Tokai oor te steek.“As hy Tokai Maandag op sy eie bereik, sal hy kan integreer en sal sy strooptog gemonitor word,” sê Niewoudt.
As hy egter nie teen Maandag in Tokai is nie, is verdere ingryping nodig.
“ ’n Aansoek by CapeNature sal deur die Kaap de Goede Hoop-dierebeskermingsvereniging ingestel word om ’n permit te kry om SK11 na ’n rehabilitasiesentrum in die Limpopo-provinsie te verplaas,” sê Niewoudt.
Die stadsraad het alle belanghebbers, belangstellendes en inwoners bedank vir hul belangstelling in en volgehoue ondersteuning vir Kataza.
“As hy gerehabiliteer word, sal dit hom die kans gee om weer na die natuur terug te keer,” sê Niewoudt.