Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Katgeveg oor leeus kom tussen boere, regering

“Jy gaan klop nie net aan ’n leeuman se deur en sê jy sit sy leeus uit nie. Jý gaan uitgesit word.”

Dit is Botha Barnard, eienaar van die Bagamoya-reservaat buite Bloemfontein, se reaksie op die regering se besluit dat die leeubedryf gestaak en leeus in aanhouding van kant gemaak moet word.

Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, het Sondag ’n verslag uitgereik waarin aanbeveel word dat die leeubedryf in sy huidige formaat tot niet gemaak word en dat geblikte leeujag en die bedryf vir leeubeendere verbied moet word.

Nadine Parker van die Vrede-leeuplaas by Verkeerdevlei wys Woensdag een van hul geliefde katte. Haar pa, Richard, sê as die staat sy leeus wil uitsit, moet hulle daarvoor betaal. Hy het vyf jaar gelede al R50 000 per leeu betaal en hy het nou 16 leeus. Foto: Mlungisi Louw

Creecy sê haar departement het reeds begin met stappe om die bedryf toe te maak. Die departement moet ook begin om van die leeus en hul opgegaarde beendere ontslae te raak.

Sy sê die bedryf – veral die handel in leeubeendere – bedreig die bewaring en voortbestaan van wilde leeus omdat dit stropery en sluikhandel aanwakker.

Barnard voorsien egter ’n lang regstryd van tot vyf jaar tussen die leeuboere en die regering oor die kwessie. Hy sê die wetgewing hieroor moet eers opgestel, deurgevoer en aanvaar word. Dit kan selfs nog in die konstitusionele hof draai.

“Die leeus is soos my kinders. Elke mens het die grondwetlike reg om te boer waarmee hy wil. Die manne het oor 20 jaar genepoele opgebou – jy kan mos nie nou net al die leeus doodmaak nie.”

Nadine Parker van die Vrede-leeuplaas by Verkeerdevlei wys Woensdag hul katte. Haar pa, Richard, sê as die regering sy leeus wil uitsit, moet hulle daarvoor betaal. Hy het vyf jaar gelede al R50 000 per leeu betaal en hy het nou 16 leeus. Foto: Mlungisi Louw

Barnard en sy vrou, Sharine, hou 20 leeus aan. Volgens hom het die leeus nie veel waarde nie, want dit is hul troeteldiere. Hulle laat dit nie jag nie. Dit kos egter tot R2 000 per maand om een leeu te voer.

“Ons is glad nie betrokke by geblikte jag nie. Ek stem saam dat beter wetgewing moet kom vir geblikte leeus. ’n Interessante vraag wat ’n mens die regering moet vra, is wat van die uitheemse diere? Wat van my tiere? Hulle kan ek aanhou, maar my inheemse leeus moet weg?”

Barnard sê daar is geen geblikte leeus op die oomblik wat gejag word nie, want daar is nie oorsese jagters nie. Die jagbedryf word erg deur die Covid-19-pandemie geknou.

“Daar is ouens wat met 200 tot 300 leeus boer, maar hulle jag. Jy kan nie net na hom toe gaan en sê jy vat sy leeus weg nie. Hy het mos die reg om met leeus te teel,” sê hy.

“Daar kan natuurlik regstappe kom. Ek gaan ook nie nou my leeus verkoop nie. Ek het die nodige permitte vir hulle.”

Twee leeus op die Vrede-leeuplaas by Verkeerdevlei. Foto: Mlungisi Louw
Die Barnard-gesin van die Bagamoya-wildreservaat buite Bloemfontein by twee van hul leeus. Van links is Trusten, Botha jr. en Sharine Barnard by die leeus Jeannie en Rouen. Die foto is in Maart 2020 geneem. Botha sr. sê die leeus is soos hul kinders en dit is mense se grondwetlike reg om te boer waarmee hulle wil. Foto: Mlungisi Louw
Meer oor:  Leeubedryf  |  Geblikte Leeus  |  Leeu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.