Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kavango: Koalisie vaar uit ná firma kritici glo dreig

’n Koalisie van 29 internasionale bewarings- en nie-regeringsorganisasies onder die leiding van Extinction Rebellion Africa (XR Africa) het uitgevaar teen ’n Kanadese olie-en-gasmaatskappy wat glo die nuusmedia, aktiviste en ’n regeringsamptenaar, wat krities is oor sy werk in die Kavango-gebied, met regsaksie gedreig het.

XR Africa het Donderdag in ’n verklaring gesê ReconAfrica het prokureursbriewe aan die dagblad, The Namibian, die tydskrif National Geographic, ’n klomp aktiviste en ’n regeringsamptenaar gestuur waarin hulle gewaarsku is om “op te hou” om leuens oor ReconAfrica te versprei.

Die Okavango-delta. Foto: Argief

Luidens die verklaring het ReconAfrica sy kritici glo met regsaksie gedreig as hulle nie hul “uitlatings terugtrek” nie.

ReconAfrica, wat intussen ’n Twitter-rekening oopgemaak het, het op Twitter gesê die publikasies verdraai sy woorde en mislei die publiek oor onder meer die ligging van sy werksaamhede.

Die publikasies beklemtoon glo die impak van ReconAfrica se werksaamhede op die Okavango-delta, “ ’n wêrelderfenisgebied” terwyl die maatskappy glo herhaaldelik gesê het hy is net in die Kavango-gebied bedrywig.

Die Kavango-gebied is een van die opvanggebiede van die delta.

ReconAfrica word gekritiseer omdat sy eksplorasiebedrywighede “hidrobreking” insluit, terwyl hy glo “by verskeie geleenthede” gesê het sy boorgate word met sement uitgevoer en dat hy “bloot gate boor”.

XR Skotland het hierop geantwoord dat ReconAfrica beslis hidrobreking gaan gebruik om by die olie en gas uit te kom.

“ReconAfrica is besig om Namibië se water te vergiftig.”

XR Africa het in die verklaring gesê dit is heeltemal onaanvaarbaar dat dié Kanadese maatskappy mense “boelie” om hul “stemme stil te maak”.

“XR Africa en 28 ander bewaringsorganisasies is beslis nie ten gunste van ReconAfrica, ’n vreemde, buitelandse maatskappy se aktiwiteite in Namibië nie, omdat die wêreld hom in ’n klimaatkrisis bevind.

ReconAfrica is besig om Namibië se water te vergiftig.

“Dit is ’n klimaatvernietigende projek.

“Afrika is dié kontinent in die wêreld wat die kleinste bydrae tot die klimaatkrisis en die ekologiese noodtoestand gelewer het, maar gaan die ergste daaronder gebuk.”

Sainey Gibba, van XR Africa, het gesê dit is gevaarlik as plaaslike inwoners, regeringsamptenare en aktiviste se monde gesnoer word oor kwessies wat hulle direk raak.

Volgens Gibba kan dit gebeur dat teenstand teen toekomstige projekte “gesensor” word.

Anette Ateenyi, woordvoerder van XR Africa, het gesê te midde van die globale klimaatkrisis is dié soort optrede deur internasionale maatskappye “baie onregverdig en ondemokraties”.

ReconAfrica het prospekteerregte in ’n gebied van meer as 35 000 vierkante kilometer in Namibië en Botswana.

Volgens XR Africa het ReconAfrica sy eerste gat op 11 Januarie gesink. Dit is glo sowat 1 000 m diep.

Die maatskappy is besig om voorbereidings te tref om ’n tweede boorgat te sink.

Sowel Botswana as Namibië is ondertekenaars van die Paryse klimaatooreenkoms, het XR Africa gesê.

’n Groep lede van die San-gemeenskap in Suider-Afrika het op 15 Februarie ’n versoekskrif in Kaapstad aan die Kanadese konsulaat oorhandig waarin hulle sê hulle is “as inheemse inwoners van die gebied geheel en al gekant teen ReconAfrica” se bedrywighede.

Hulle sê die gebied wat aan ReconAfrika “oorhandig” is, is van internasionale belang. Vir die San is dit hul “heiligste woonplek”.

ReconAfrica het gesê hy sal binnekort weer ’n vraag-en-antwoordsessie op Twitter hê en sal die huidige vrae “ter gelegener tyd” beantwoord.

Meer oor:  Hidrobreking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.