Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kenia skors amptenare ná geknoei met renoster-skuif

Kenia se minister van toerisme het ses hooggeplaaste omgewingsamptenare geskors na die dood van tien swartrenosters wat van Lake Nakuru en die Nairobi- Nasionale Park na ’n “veilige hawe” in Tsavo-Oos verskuif is.

Die verskuiwing het oor ’n afstand van sowat 455 km plaasgevind en was bedoel om ’n nuwe swartrenosterbevolking in die ooste van Kenia te begin.

Elf renosters is hervestig, maar tien is kort ná hul aankoms in Tsavo-Oos dood. ’n Elfde renoster is deur leeus aangeval en sy toestand was Vrydag teen druktyd nog kritiek.

Najib Balala, Kenia se minister van toerisme, sê die hervestiging het ’n maand gelede begin.

Hy het die dood van die renosters toegeskryf aan “growwe nalatigheid” deur omgewingsamptenare.

Luidens ’n verklaring sê hy die renosters is dood weens geweldige stres tydens die vervoer van die diere en die feit dat hulle onveilige water in hul nuwe tuiste gedrink het.

Die dood van die renosters het die nasie en die internasionale bewaringsgemeenskap diep geskok.

Hy sê die soutgehalte van die water wat aan die renosters by Tsavo-Oos gegee is, was geweldig hoog. Die renosters was gedehidreer, het die water gedrink en is gevolglik vergiftig.

Balala het die Keniaanse wilddiens daarvan beskuldig dat sy werknemers “uiters nalatig” was.

“Die dood van die renosters het die nasie en die internasionale bewaringsgemeenskap diep geskok,” het Balala gesê.

Hy het Vrydag die bevindings bekend gemaak van ’n ondersoekspan na die dood van die renosters. Volgens hom het die onafhanklike span bevind daar was nalatigheid tydens die hele proses, asook by die boma waar die diere in Tsavo-Oos aangehou is voordat hulle in die res van die park vrygelaat sou word.

Die span het bevind dat benewens vergiftiging die diere ook van die honger dood is. Van hulle het weens stres maagsere ontwikkel.

Die ondersoekers het bevind die water wat aan die diere by Tsavo-Oos gegee is, is nie getoets nie. Daar is tydens die hervestiging ook nie na die algemene welsyn van die diere omgesien nie.

Die veearts, dr. Francis Gakuya, wat tydens die hervestiging teenwoordig was, word ook daarvan beskuldig dat veral hý nalatig was.

Die Wêreldnatuurfonds, wat die operasie deels befonds het, het sy diepe teleurstelling en hartseer oor die verlies van die erg bedreigde swartrenosters in ’n verklaring te kenne gegee.

Dr. Paula Kahumbu, uitvoerende hoof van die bewaringsorganisasie Wildlife Direct, het Vrydag getwiet dat al 11 renosters dood is. “Dit is ’n hartseer tyd wanneer meer renosters weens wanbestuur doodgaan as deur stropers se geweerlope.”

Netwerk24 kon nie bevestiging kry oor die dood van die 11de renoster nie.

Daar is net 750 swartrenosters in Kenia oor.

Daar is wêreldwyd net meer as 2 000 van dié diere in die natuur oor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.