Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kewer se swam rig dalk groot skade in Noord-Kaap aan
’n Klein kewer wat ’n dodelike virus in Noord-Kaapse pekanneutbome agterlaat, wek groot kommer. Foto: Grietjie Botha

’n Klein kewer wat ’n dodelike swam in Noord-Kaapse pekanneutbome en ander belangrike gewasse in dié distrik agterlaat, wek nou groot kommer.

Die polifaag-boorder, oftewel PSHB (polyphagous shot hole borer), is ’n bedreiging vir ’n reeks gewasse in Suid-Afrika wat avokadopere, makadamianeute, perskes en lemoene asook wingerdstokke insluit, sê die Noord-Kaapse departement van landbou.

“Die plaag deurboor die stam en laat in die proses die swamagtige patogeen agter.”

Hoewel swam- en insekdoders werk, kan dit duur wees, sê Phemelo Manankong, departementele woordvoerder.

“Ons is baie bekommerd oor hierdie kewer. In dié stadium kan ons nie bevestig of dit die swam na die pekanneutboom oordra nie. Meer navorsing is nodig,” sê hy.

As die swam wel oorgedra word, sal dit moontlik tot die stadige agteruitgang en uiteindelike afsterf van die bome lei.

Die teenwoordigheid van die kewer op pekanneute in die Vaalhartsstreek word tans ondersoek, maar plase in ander streke is ook volgens Manankong op die uitkyk daarvoor.

Die PSHB is ’n klein kewer van omtrent 2 mm tot 2,8 mm lank. Volwasse vroulike kewers is donkerbruin tot swart en groter as die manlike kewers.

De Villiers Fourie van die departement dierkunde en entomologie aan die Universiteit van die Vrystaat sê enorme kommer bestaan oor dié kewertjie (Coleoptera: Curculionidae).

“Die woord ‘polifaag’ beteken die kewer is in staat om te voed en te oorleef op ’n wye verskeidenheid gasheerplante wat ook groot bedrywe in Suid-Afrika is.”

Hy meen die gevaar is nie net in die landbousektor ter sprake nie, maar ook by “ornamentele bome” in die bosboubedryf.

“In Kalifornië, waar die kewer al sedert 2003 ’n probleem is, is daar meer as 200 plantspesies geïdentifiseer wat aangeval word en vrek.”

Wat die kewer so skadelik maak, is die sekondêre swaminfeksie, Fusarium euwallacea, wat die boom gewoonlik laat vrek.

Volgens Fourie is die groot probleem dat die kewer so “kripties” is.

Hy is nie baie sigbaar nie. Wanneer simptome dus op die boom voorkom, is die meeste van die skade reeds gedoen en in baie gevalle is dit te laat, sê hy.

Voorts versprei die kewers baie vinnig en vind hulle maklik skuiling. “Dit is bykans onmoontlik om heeltemal ontslae te raak van die kewer.”

Gelukkig is daar geen gevaar as die neute of vrugte van ’n besmette boom geëet word nie. “Die kewer en die swam wat oorgedra word, is in die stam van die boom en het geen invloed op die vrugte of sade nie.”

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Neute  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.