Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kinders met spesiale behoeftes hier tuis

Vir sommige ouers met kinders met spesiale behoeftes is die Mozart Akademie in Magalieskruin ’n laaste uitweg. Dis hier waar kinders van 3 tot 18 jaar oud wie se spesiale behoeftes moeilik is om te diagnoseer, welkom is.

Clarissa Dos Santos gebruik ’n bal en hoepel om van die leerlinge by die Mozart Akademie te leer. Danica Mulder gaan die bal gooi. Links van haar is Corean Poley. Agter Mulder is Jayden Maritz en regs van haar is Charis Nel, Zac du Toit, Atlarelang Mokgara, Rinique Kruger (ook ’n onderwyseres) en Rick Scheepers. Foto: Marthinus Koekemoer

“Die Akademie het in Februarie 2012 sy deure geopen,” sê Carin Scheepers, tans die hoofbestuurder by dié organisasie sonder winsbejag. Carina Thirion het die skool begin en het baie ingesit, maar toe sy aan die einde van 2016 na die Wes-Kaap verhuis het, het die skool swaar begin trek.”

Daar was vir ’n paar maande ’n ander bestuurder voordat Scheepers die leisels oorgeneem het. Sy is soos Thirion self ’n ouer van ’n seun met spesiale behoeftes. Haar seun is by verskeie ander skole die deur gewys voordat hy by Mozart plek gekry het.

“Omtrent al ons leerlinge het ’n vorm van epilepsie en hul ontwikkeling is ver agter normale kinders van hul ouderdom,” sê Scheepers. “Baie van hulle het ook ongediagnoseerde toestande wat dit vir hulle by ander skole moeilik maak.”

Yolanda Koen, die opvoedkundige hoof by die Mozart Akademie, se seun het Angelman-sindroom en is ook ’n leerling by die skool. “Arno was in ’n stadium herhaaldelik in hoësorg,” sê sy.

Arno Koen, Marinel van Niekerk, Liiza Barkhuizen en Bennemie Strydom is lekker doenig in Zandelee Burke (tweede van regs) se klas.

“Ek en my man het besluit om van Cullinan na Pretoria te verhuis om beter mediese sorg te probeer bekom. Ek het my werk bedank om na Arno om te sien, maar uiteindelik kon ons nie meer voorbly nie. Gelukkig het Mozart tot ons redding gekom.”

Koen skat hul maandelikse onkostes om na Arno om te sien bedra tot R20 000 per maand. Dit kos elke ouer R3 300 per maand om hul kind by Mozart te laat skoolgaan. Die kinders word daagliks op verskeie maniere gestimuleer en geleer. Hulle word byvoorbeeld met musiek en op allerlei sensoriese wyses tot 13:30 op weeksdae besig gehou. Daar is ook ’n naskoolse program waarby leerlinge kan inskakel.

Daar is tans 19 leerlinge by die akademie ingeskakel, maar hulle het plek vir 30. Elke klas het ’n maksimum van agt kinders.

“Die spreekwoord lui ’n mens moet jou sente twee keer omdraai, maar ons voel asof ons dit sewe keer moet doen,” sê Scheepers.

“Ons het groot drome vir die skool, waarvan ons eie perseel die grootste van almal is. Sodoende sal ons nog meer aan die kinders kan bied.”

Stuur e-pos na infoatmozart@gmail.com om meer oor die skool uit te vind.

Meer oor:  Mozart Akademie  |  Magalieskruin  |  Leerlinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.