’n Stroper het sy ma doodgeskiet, waarna hy sowat vier dae vir homself moes sorg. Daarna het ’n olifant hom gejaag én ’n leeu het hom bygekom.

Yster, die weesrenostertjie wat meer as een ontbering in die Krugerwildtuin oorleef het, by Gerard Naudé van Care for Wild.
Maar ’n witrenoster-bulkalfie het dit alles oorleef. Sy “superheldstatus” het aan hom die naam Yster besorg.
Vroeër vandeesmaand het iemand in die Krugerwildtuin ’n video geneem van hoe ’n olifant Yster jaag en hy tussen sowat 15 olifante inhardloop. Wildbewaarders het ’n helikopter gebruik om na hom te gaan soek en toe hulle hom kry, sien hulle hy het ’n krapmerk aan sy regteroor waar ’n leeu hom bygekom het.
“Die leeu het hom darem nie gebyt nie,” sê Petronel Nieuwoudt, eienaar van Care for Wild, ’n rehabilitasiesentrum vir renosters waar Yster sedert 5 Julie versorg word.
“Yster is so gelukkig dat hy dit kon oorleef.”
Care for Wild se werkers sê noudat wildreservate ingevolge die verslapte inperkingsregulasies besoekers mag ontvang, is stropers weer bedrywiger.
Intussen sterk Yster veilig aan én hy het ’n maatjie ryker geword.
Dié weesrenostertjie, wat intussen Anchor gedoop is, is op 13 Junie gevind toe hy ongeveer vyf dae oud was. Sy ma is dood toe ’n renosterbul haar gestorm het.
jaco.nel@rapport.co.za