Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Klimaat gaan SA hárd tref

Suid-Afrika ervaar reeds ’n beduidende impak van klimaatsverandering, veral wat die land se verhoogde temperature en waterskaarste betref.

So lui die inleiding tot die departement van omgewingsake se nasionale verslag oor hoe om by klimaatsverandering aan te pas (NCCAS), wat vroeër vandeesweek gepubliseer is.

Die strategie wat in die verslag uitgestippel word, vorm nou deel van Suid-Afrika se plan om by klimaatsverandering aan te pas en die impak daarvan te versag.

Luidens die verslag is die vooruitgeskatte gemiddelde temperatuurstyging in Suid-Afrika 2 °C per eeu.

Dit is meer as twee keer die styging in die globale temperatuur. Dit is veral die westelike en noordoostelike dele van die land wat in die toekoms die ergste onder hittegolwe gaan deurloop.

Die verslag lui voorts daar is getuienis dat uiterste weersomstandighede in Suid-Afrika toeneem. Die waargeneemde klimaatsomstandighede dui op ’n vermeerdering in die aantal hittegolwe wat die land jaarliks in die volgende dekades gaan tref. Dit gaan waarskynlik toeneem.

Buiten die algemene veranderinge, sê die verslag klimaatsverandering kan ook tot sosio-ekonomiese veranderinge lei.

Droogtes gaan ietwat langer duur en reënval gaan in intensiteit toeneem.

Klimaatsones oor die land heen skuif reeds en ekostelsels en landskappe is besig om agteruit te gaan.

Mariene gebiede en die natuurlike grondgebied is onder geweldige druk, lui die verslag.

As deel van die verslag het die departement van omgewingsake ’n opsomming gegee van die verwagte veranderinge in reënvalpatrone en temperatuurskommelinge.

Dié veranderinge is gegrond op hoëmitigering- en laemitigeringscenario’s wat afhang van hoe gou en drasties die owerheid klimaatsverandering kan stuit.

Die departement sê hy voorsien dat die gemiddelde temperatuur oor die hele Suid-Afrika heen teen die einde van die eeu met gemiddeld 4 °C gaan styg. In die westelike, sentrale en noordelike binneland sal die temperatuurstyging na verwagting 6 °C wees.

Die departement sê ook vooruitskattings dui daarop dat dié temperature selfs verder oorskry kan word op baie warm dae of dae waarop hittegolwe voorkom.

In omstandighede waar klimaatsverandering wel teengewerk word, sal die temperatuur konstant tussen 2,5 °C en 4 °C wissel.

Volgens die departement bestaan daar groter onsekerheid oor vooruitskattings vir reënval.

As geen mitigering plaasvind nie, sal Suid-Afrika in die algemeen meer droogtes ervaar, terwyl daar soms vloede in die binneland sal voorkom. ’n Groot aantal projeksies dui op natter toestande oor die sentrale en oostelike dele van die land.

Buiten die algemene veranderinge, sê die verslag klimaatsverandering kan ook tot sosio-ekonomiese veranderinge lei.

Die verslag sê ook:

* Landbou en bosbou word moontlik deur ernstige watertekorte in die gesig gestaar.

Landbou in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Wes-Kaap kan weens waterstres swakker oeste oplewer.

Indringerspesies kan waterstres laat vererger.

* Kusgebiede: Soutwater kan binnelandse waterbronne binnedring weens groter moontlikhede van oorstromings.

Kusgebiede raak al hoe meer kwesbaar vir storms en oorstromings. Dit gee aanleiding tot die erodering van kusgebiede.

Die departement erken dat Suid-Afrika ’n gebrek aan kennis het oor die verband tussen klimaatsverandering en gesondheid. Daar is gapings in kennis oor die verband tussen die getal sterftes wees verhoogde temperature.

* Landgesetelde ekostelsels kan ’n toename in indringers ervaar wat op sy beurt tot waterstres lei.

* Die vraag na water kan nog meer verhoog. Dit is baie problematies omdat die huidige vraag na water reeds die beskikbaarheid van dié hulpbron oorskry.

* Die afname in watergehalte weens die ernstige besoedeling van riviere en waterstrome en damme, asook grondwater.

Meer oor:  Klimaatsverandering  |  Omgewing  |  Verslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.