Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Klimaat: Kenners vra ’n noodtoestand

Ondanks die Covid-19-pandemie wat die wêreldekonomie verlede jaar “feitlik tot stilstand” gebring het en die lug toe minder besoedel is, het die vlak van koolstofdioksied (CO2) en metaan in die atmosfeer vanjaar die hoogte ingeskiet.

Opstellers van die verslag “World Scientists Warning of a Climate Emergency­ 2021”, wat Woensdag in Bio­Science, ’n wetenskaptydskrif van die Amerikaanse Instituut vir Biologiese Wetenskappe, gepubliseer is, lê dié toedrag van sake voor die deur van politici en sakelui wat voortgaan asof “niks met die planeet verkeerd is nie”.

Net 34 van die wêreld se 195 lande het amptelik ’n klimaatnoodtoestand afgekondig.

Wetenskaplikes van oor die wêreld heen doen ’n hernude beroep op regerings om ’n globale noodtoestand te verklaar.

In 2019 het 11 000 wetenskaplikes van 153 lande ’n soortgelyke verslag onderteken. In die voorwoord van die jongste verslag sê die skrywers ’n bykomende 2 800 wetenskaplikes het nou ’n verklaring onderteken dat die aarde amptelik in ’n klimaatnoodtoestand verkeer. Die verslag dui op ’n “ongeëwenaarde toename” sedert 2019 in natuurrampe wêreldwyd wat direk met klimaatsverandering verband hou.

Dit sluit vernietigende vloede in Suid-Amerika en Suidoos-Asië en hitte­golwe en wegholbrande in Australië en Kalifornië in Amerika in. Ook Afrika en die suide van Asië het die afgelope twee jaar onder siklone deurgeloop.

“Daar is ’n toenemende aantal tekens dat die aarde reeds kantelpunte bereik het en vinnig op pad is om nog te oorskry, veral in kritieke dele van die planeet, soos die Wes-Antarktiese en Groenlandse ysplate, koraalriwwe en die reënwoud van die Amasone.”

Die pak-ys in Antarktika en Groenland smelt nou 31% vinniger as 15 jaar gelede. Sowat 1,11 miljoen ha woud in die Amasone is in 2019 en 2020 uitgekap of deur brande vernietig.

Dít het tot gevolg dat dié reënwoud nou, pleks van om ’n koolstofsink (wat CO2 inneem) te wees, CO2 in die at­mosfeer pomp, sê die navorsers.

Luidens die artikel het die wetenskaplikes 31 merkers geïdentifiseer waarvolgens hulle die aarde se “gesondheid” gemeet het. Hulle meen 18 hiervan het reeds ’n kantelpunt bereik.

Die navorsers stel dringende stappe voor: Fossielbrandstowwe moet onmiddellik uitgeskakel word, lugbesoedeling moet dringend afneem, ekostelsels moet herstel word en mense moet in ’n groter mate ’n vegetariese dieet volg. Hul navorsing wys daar word nou meer as 4 miljard stuks vee vir die vleismark geproduseer. Die biomassa van dié vee is meer as die van die mensdom en wilde diere saam. Dís onvolhoubaar. Dié aspek kan net verander word as mense meer plantgebaseerde kos eet.

Die wetenskaplikes sê voorts ekonome moet wegbeweeg van die idee dat oneindige ekonomiese groei moontlik is. Laastens moet die menslike bevolking stabiliseer.

Hulle vra ook dat onderrig oor klimaatsverandering in skole se leerplanne ingewerk word. “Ons moet ophou om te dink die klimaatnoodtoestand is bloot ’n omgewingskwessie.

“Die klimaattoestand is die gevolg van verskeie omgewingskrisisse. Die wortel van al dié kwaad – oorverbruik – moet erken en aangepak word. ”

Luidens die verslag sal soönotiese siektes die mens aanhou teister so lank as wat die druk op die planeet voortbestaan. “Entstowwe en medikasie vir pandemies is net tydelike oplossings.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.