Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Klimaat: Só kan lewe op aarde gered word

Die verslag “Special Report on Global Warming of 1,5 °C” van die interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) is as die aanlyn tydskrif ScienceNews se wenstorie vanjaar aangewys.

ScienceNews vra in ’n verklaring: “Kan 0,5 °C lewe op aarde red?”

Die tydskrif sê voorts: “Die werklikheid van klimaatsverandering het die nuus in wetenskapkringe oorheers. Dit is die jaar waarin ons besef het die vereistes in die Parys-ooreenkoms (1995) vir die stuit van klimaatsverandering sodat lewe op aarde nog moontlik is, skiet ver te kort.”

Terwyl die Parys-ooreenkoms betrokkenes maan om te sorg dat die aarde se temperatuur nie met meer as 2 °C styg nie, maar om dit liewer in te perk tot 1,5 °C, sê die IPCC se verslag dit móét tot laasgenoemde beperk word.

Klimaatsverandering
Klimaatsverandering

ScienceNews sê dié verslag van die IPCC wat vroeg in Oktober uitgereik is, wys daarop dat die mensdom net 12 jaar oor het om te sorg dat wegholklimaatsverandering nie plaasvind nie. Kweekhuisgasse wat in die atmosfeer beland, moet van nou tot 2030 met 45% besnoei word. Geen kweekhuisgasse mag teen 2050 meer in die atmosfeer vrygelaat word nie.

Die verslag is die vrug van drie jaar se navorsing. 91 leierouteurs en 33 wetenskaplikes het in dié tyd 6 000 wetenskaplike artikels deurgewerk en ontleed.

Die resultaat wys daarop selfs as die aarde se temperatuur met 1,5 °C styg, hou dit ernstige gevolge vir lewe op aarde in.

ScienceNews sê nadat die Parys-ooreenkoms gesluit is, het sommige wetenskaplikes hul kommer oor groot dele van die inhoud daarvan uitgespreek. “Dít het die Verenigde Nasies ’n ongewone stap laat doen: Hy het die wetenskap in heroënskou laat neem en wetenskaplikes versoek om vooruitskattings te doen oor die veranderinge wat verwag word as die temperatuur met 1,5 °C styg teenoor 2 °C.

Die resultaat was: “0,5% sal ’n geweldige verskil maak.”

Deur ’n perk te plaas op ’n styging van 1,5 °C sal minder spesies uitsterf, die seevlak nie so vinnig styg en droogtes en hittegolwe nie so dodelik wees nie.

ScienceNews sê die volgende voorstelle vir ’n koolstofneutrale wêreld moet dringend oorweeg word:

  • Die uithaal van koolstofdioksied (CO2) uit die atmosfeer en die omskepping daarvan in sintetiese brandstof;
  • Die opvang van CO2 en die berging daarvan diep onder die grond;
  • Mense moet minder vleis eet; en
  • Mense moet minder reis.

Van die ander wetenskapnuus wat vanjaar in die kollig was, is:

  • ’n Chinese navorser maak daarop aanspraak dat hy ’n tweeling geneties geredigeer het om hulle glo minder vatbaar vir MIV/vigs te maak;
  • Speurders in Amerika het vanjaar aangedui hulle wil genetiese genealogie as ’n forensiese tegniek begin gebruik om verdagtes deur hul stamboom vas te trek;
  • Wetenskaplikes het drie jaar lank ’n geheim bewaar: Hulle het ’n krateragtige insakking sowat ’n kilometer diep onder die yslae in die noordweste van Groenland ontdek; en
  • Die einde van muskiete? Vir die eerste keer het wetenskaplikes ’n destruktiewe groep gene gebou wat klein bevolkings van muskiete gaan binnedring en hulle gaan uitwis. “Dit sal een van die mensdom se grootste begeertes waar laat word,” sê ScienceNews.
Meer oor:  Klimaatsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.