Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Klimaats-verandering: ‘Kwik klim gevaarlik hoog’

Buitengewone weersomstandighede het 62 miljoen mense verlede jaar geraak en meer as 2 miljoen ontwortel. Verder is 35 miljoen mense deur vloede geraak en meer as 1 600 is in brande en hittegolwe dood.

Dit is enkele van die bevindings wat opgeteken is in die Wêreld- Metereologiese Organisasie (WMO) se jongste verslag, “WMO Statement on the State of the Global Climate 2018”, wat einde verlede week uitgereik is.

António Guterres

Luidens die verslag is die fisieke tekens en maatskaplik-ekonomiese impak van klimaatsverandering besig om toe te neem namate kweekhuisgasse in die atmosfeer vermeerder. Die gevolg daarvan is dat temperature gaandeweg tot gevaarlike hoogtes klim.

Verskeie rekords word in die verslag uitgelig: die seevlak toon ’n rekordstyging, terwyl die temperatuur in hoogliggende gebiede (veral waar gletsers voorkom) en die temperatuur van die oseaan die afgelope vier jaar bly styg het. “Hierdie tendens van stygende temperature word sedert die begin van die huidige eeu (die afgelope 19 jaar) waargeneem en sal na verwagting voortduur,” lui die verslag.

Petteri Taalas, die WMO se sekretaris-generaal, sê in ’n verklaring sedert die eerste verslag oor die stand van die globale klimaat 25 jaar gelede verskyn het, het die klimaatwetenskap ’n ongekende ontwikkeling ondergaan en kan nou met gesag oor die stygende globale temperature, die stygende seevlak, krimpende see-ys, smeltende gletsers en uiterse weersomstandighede, soos hittegolwe, gepraat word.

Merkers wat klimaatsverandering aandui, word al hoe betroubaarder, sê Taalas.

In 1994, toe die WMO se eerste klimaatverslag gepubliseer is, was die hoeveelheid koolstof­dioksied in die atmosfeer 357 deeltjies per miljoen. In 2017 was dit 405,5 deeltjies per miljoen.

Die samestellers van die verslag het nog nie die data vir 2018 ontvang nie, maar meen dat die konsentrasie kweekhuisgasse verlede jaar ook ’n styging getoon het en dat dit vanjaar verder sal styg.

Klimatoloë is veral bekommerd oor die styging in metaanvlakke.

Idai is tot een van die dodelikste klimaatverwante rampe wat die Suidelike Halfrond tot nog toe getref het.

Die WMO se verslag vir 2018 bevat ook inligting oor die ontwrigting van die hidrologiese siklus en die impak van klimaatsverandering op menslike gesondheid en welsyn, migrasie, voedselsekerheid en die ekostelsels op land en in die oseane.

Daar is ook ’n inventaris van die uiterse weersomstandighede wat verlede jaar in verskillende wêrelddele ervaar is.

Met verwysing na die sikloon Idai, wat verlede maand omvattende skade in Mosambiek, Malawi en Zimbabwe aangerig het, sê Taalas uiterse weersomstandighede het reeds begin.

“Idai is tot een van die dodelikste klimaatverwante rampe wat die Suidelike Halfrond tot nog toe getref het.”

Idai het hom twee weke gelede oor Beira, ’n laagliggende,groeiende hawestad in ’n kwesbare kusgebied, uitgewoed.

“Idai se slagoffers is die personifikasie van waarom die wêreld ’n internasionale agenda vir volhoubare ontwikkeling, aanpassing by klimaatsverandering en ’n vermindering van ramprisiko’s dringend nodig het,” sê Taalas.

António Guterres, die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, skryf in die voorwoord van die verslag die data “bevestig die noodsaak van dringende optrede teen klimaatsverandering. Ons kan nie langer uitstel nie.”

Meer oor:  Klimaatsverandering  |  Sikloon Idai  |  Sikloon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.