Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kommer dat VS-wild na amptenare, ryk sakelui gaan

Skerp vrae word gevra oor wie die boere is wat gratis wild van Vrystaatse wildreservate gaan kry, en of politici en senior amptenare daarby baat gaan vind.

Kgotso Tau, woordvoerder van die departement van ekonomiese sake, kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake in die Vrystaat.Foto: Kekeletso Pitso

In ’n verslag van die Vrystaatse departement van ekonomiese sake, kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake word aangedui dat Sandile Msibi, voormalige hoof van die departement van polisie, paaie en vervoer, in 2016 wild ter waarde van R25 500 gratis gekry het.

Msibi, ’n omstrede regterhand van Ace Magashule, gewese premier van die Vrystaat en tans sekretaris-generaal van die ANC, het wildplase langs die Vaaldam gehad toe hy in 2017 dood is.

Uit die verslag en inligting wat Netwerk24 bekom het, is dit duidelik dat die skema van die departement om nuweling-wildboere met wild te beloon, nie net arm swart boere help nie. Senior amptenare en ryk sakelui het ook wild ontvang.

Wild van meer as R800 000 is in 2016 uitgedeel. Dié week is 1 520 stuks wild ook aan die nuwelingboere belowe. Al die wild kom uit die Vrystaatse reservate.

Johann Neethling van Smithfield sê Sipho Dube van die plaas Traacha in dié distrik het al verskeie skenkings ontvang, wat buffels, wildheining, watertenks en ander infrastruktuur insluit. Op die oog af loop alles wel met sy boerdery.

“Hy is egter ook ’n groot begrafnisondernemer in Bloemfontein en woon in Heuwelsig. Dit is in hierdie geval duidelik dat ekonomiese transformasie en menslike ontwikkeling die verkeerde persone bevoordeel.”

Dube, wat volgens die departement se verslag wild soos buffels, wildebeeste en sebras van R107 400 gekry het, het by navraag ontken dat hy dié wild ontvang het.

Hy sê dit is “vals inligting” en niemand kan bewys hy het dit gekry nie.

Luidens die verslag het hy ’n kameelperd gekoop en is die buffels aan hom “geleen”.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê hy vermoed die 1 520 stuks wild van Vrystaatse reservate gaan volgens politieke verbintenisse uitgedeel word.

Hy gaan weer vrae in die wetgewer vra oor wie die 30 wildboere is wat nou baat gaan vind. Met sy vorige vrae in die wetgewer het dit aan die lig gekom dat Msibi wild ter waarde van R25 500 gratis gekry het terwyl hy die hoof van ’n staatsdepartement was. Die Vrystaatse tenderpreneur Mafani Dasheka van Bloemfontein het ook R79 000 se wild gekry. Van die wild is ook glo aan hom geleen.

Jankielsohn sê die proses behoort administratief deur die departement hanteer te word sonder die betrokkenheid van politici soos die huidige premier, Sisi Ntombela, en Limakatso Mahasa, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, kleinsake, toerisme en omgewingsake, wat nou met Magashule verbind word en wat Dinsdag teenwoordig moes wees toe die wild uitgedeel sou word.

“En waarom word die wild so kort voor ’n verkiesing gegee?”

Jankielsohn sê daar moet verseker word dat waar wild uitgedeel word, die plase aan die nodige wetgewing en regulasies oor die aanhou van wild voldoen. Die nodige permitte moet ook uitgereik word.

Die DA steun die proses van transformasie in die bedryf, maar dit moet op deursigtige manier gedoen word sonder inmenging van politici. Die volhoubaarheid daarvan moet gewaarborg kan word.

“In die verlede is wild links en regs uitgedeel, en dit is later verkoop of geslag.”

Die departement sê die wild word uitgedeel as deel van ’n transformasieproses om opkomende swart boere deel van die wildbedryf te maak.

“Die departement het wetenskaplikes, navorsers, ekoloë en tegniese personeel wat plase herhaaldelik besoek om deeglik seker te maak dat dit aan vereistes voldoen voordat wild daarheen gaan word.”

Volgens hom is die proses van wie die Vrystaatse wild gaan kry, nog aan die gang, maar personeellede van die departement sê die wild is reeds “op papier” aan die 30 boere uitgedeel.

Kgotso Tau, woordvoerder van die departement, sê boere doen aansoek om deel van die program te word. “Ons gee wild aan boere nadat ons seker gemaak het hulle sal suksesvol hiermee kan boer. Dit is onwaar dat dit deel van ’n verkiesingstrategie is.”

* In Noordwes het ’n storm ook vroeër vanjaar losgebars oor die uitdeel van staatswild van R100 miljoen.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Wild  |  Vrae  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.