Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kommer oor indringer-kreef in Vrystaat

Groot kommer heers onder bewaringslui nadat die aggressiewe rooimoeraskreef in ’n dam buite Welkom gevind is.

Die departement van omgewingsake sê die rooimoeraskreef is een van die aggressiefste akwatiese indringerspesies en dit kan in koel weer tot 17 km ver na waterbronne loop.

Só lyk die rooimoeraskreef (Procambarus clarkii), ’n gevaarlike indringer, wat in ’n dam buite Welkom gevind is. Foto: Verskaf

Die kreef, wat inheems aan Mexiko en die noordelike dele van Amerika is, het deur troeteldierhandel en akwakultuur oor die wêreld heen versprei en het ’n vernietigende uitwerking op inheemse waterspesies en -habitatte.

Die nasionale departement sê hy en die Vrystaatse departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake werk nou saam met die plaaslike en distriksmunisipaliteite om die kreef uit te roei en die verspreiding daarvan te keer.

Ná ’n wenk het dr. Leon Barkhuizen in Junie afgekom op ’n groot bevolking van die moeraskrewe (Procambarus clarkii) in ’n dam buite Welkom.

Prof. Linda Basson van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het bevestig dat dit die uitheemse moeraskreef is.

Barkhuizen het 53 krewe, meestal jonges en ’n paar volwassenes, in die dam gevang.

Die hoeveelheid jong krewe dui volgens die departement daarop dat dit ’n gevestigde teelkolonie is.

Na wat verneem word, het iemand die krewe in die dam geplaas en die departement meen die krewe is al ’n hele paar jaar in die Goudveld. Twee van dié krewe is ook in Oktober verlede jaar hier in ’n swembad gekry.

Die departement sê die kreef grou tonnels en kan só skade aan damme en besproeiingskanale aanrig.

Die rooi moeraskreef is ook die draer van ’n dodelike siekte wat inheemse kreef in Europa uitgewis het. Afrika het geen varswaterkreefspesies nie.

Een van die rooimoeraskrewe (Procambarus clarkii), ’n indringerspesie, wat in ’n dam buite Welkom gekry is. Foto: Verskaf

Die rooimoeraskreef word gelys as ’n verbode varswaterspesie en dit mag glad nie in die land aangehou word nie.

Die Wet op Vreemde en Indringerspesies bepaal dat dié krewe onmiddellik vernietig moet word as dit in Suid-Afrika gevind word.

Die departement sê hy het inligting gekry dat mense die krewe teen R10 stuk in die Goudveld verkoop. Mense wat met die krewe gevang word, kan ’n boete van tot R10 miljoen of tronkstraf gevonnis word.

Volgens die departement sal hy aanhou met inspeksies in die gebied om vas te stel hoe erg die kreef hier versprei het.

  • Mense wat van die krewe besit, of weet van mense wat dit aanhou, word versoek om dr. Barkhuizen te bel by 083 256 9446 of Trudell Potgieter by 012 399 9971.
Meer oor:  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.