Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
Kommer oor Karoo-park se heining ná leeu ontsnap

Kommer heers oor die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes in die Wes-Kaap se heining nadat ’n ontsnapte leeu Woensdagmiddag gevang en na die park teruggebring is.

Sanparke het vroeër gesê ’n boer het die park se bestuur Maandag verwittig dat hy leeuspore op sy plaas gekry het. Veldwagters het die spore van naderby bekyk en bevestig dit is leeuspore. Veldwagters van die Addo-olifantpark en die Bergkwagga-park het met die soektog kom help.

’n Leeu in die boma by die Karoo Nasionale Park in April 2016. Foto: Sanparke

’n Hanteerder en ’n spoorsny-hond van die Wildernis-stigting het ook die jong mannetjie se spore gevolg tot waar hy in ’n dig beboste gebied op ’n wildplaas tussen Nelspoort en Drie Susters geskuil het.

Die leeu is Woensdag gevang, verdoof en na die park teruggeneem. Sanparke het toe gesê daar word vasgestel presies waar die leeu ontsnap het.

Inwoners het intussen laat blyk hulle is bekommerd oor die park se heining, wat volgens hulle nie goed genoeg onderhou word nie, en ook omdat hulle nie genoegsaam oor die ontsnapte leeu ingelig is nie. Hulle meen dit stel menselewens in gevaar.

Sanparke het by navraag gesê wanneer ’n berig ontvang word van leeuspore wat buite die park gekry is, is die gebruik dat die Karoo Nasionale Park se bestuur dadelik spoorsnyers uitstuur om te bevestig dat dit wel leeuspore is.

Die park se bestuur tree dan in verbinding met voorsitters van die verskillende plaasgemeenskappe deur middel van ’n sentrale verteenwoordiger in die plaasgemeenskap om mense op die hoogte te hou van die situasie.

Volgens Sanparke is die park se heining ’n gewone roofdier-wildheining van 2,2 m hoog met 16 tot 18 staaldrade, ses elektriese drade en maasdraad (met ’n grootte van 4 mm) op die grond. Klippe word op die grond aan die binnekant van die heining gepak.

In 2015 en 2016 het die leeu Sylvester twee keer uit die park ontsnap. Hy is na die Kuzuko Lodge-natuurreservaat in die Oos-Kaap verskuif en het onlangs die pa van twee welpies geword.

Sanparke is genader vir kommentaar of leeus ná Sylvester weer uit die park ontsnap het, maar het nie dadelik gereageer nie.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Karoo Nasionale Park  |  Beaufort-Wes  |  Heining  |  Ontsnap  |  Ontsnapte Leeu  |  Leeu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.